Thursday, 7 March 2019

Vrugte wat by die bekering pas (2 van 12)


Selfondersoek

1559 woorde
Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het (1 Johannes 2:6).  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig (1 Petrus 1:16-17). Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle (1 Petrus 5:7-8). Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting (Romeine 15:2). Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n (Filippense 2:4). Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers (Hebreërs 13:16).  Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby (Jakobus 5:8).   Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer (1 Petrus 2:17).

Ons behoort soos Jesus te lewe (peripateo).  Ons behoort ons te gedra soos Hy Homself gedra het. Ja?!  Ja!  Heilig.  Onderwerp aan God.  Gooi (ekbalo = werp; gooi hard) jou bekommernisse op Hom.  Bou jou buurman (naaste) op.  Kyk na mekaar se belange.  Mededeelsaam.  Vrees God.  Eer die president.  Genugtig...!  Wat het hiervan geword in ons tyd?

Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede (2 Petrus 3:14).  Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag (Judas 1:20-21). Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul (Romeine 13:8). 

Bou jouself op in die hoogste, heilige geloof.  Vlekloos. Bewaar jouself in die liefde van God. Liefde vir mekaar.  Wat se kommentaar kan mens hieroor in ons tyd skryf?   

As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart… (1 Petrus 1:22).  Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Romeine 12:21).  En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik (1 Petrus 3:8).

Vurige onderlinge liefde.  Ongefeinsd. Opreg.  Sonder skynheiligheid.  Die eerste gelowiges wat saam met Jesus geleef het en in die eerste eeu na sy hemelvaart, het dit van mekaar se gedrag verstaan, verwag en uitgeleef as wat vir die HERE aanneemlik is.

Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede (Efesiërs 4:1-3).

Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging; en bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus, waarvoor ek ook in boeie is, dat ek dit openbaar kan maak soos ek dit behoort te spreek. Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit. Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord (Kolossense 4:2-6). Doen alles sonder murmurering en teëspraak, sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot ‘n roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie (Filippense 2:14-16).

Lees die boonste paragraaf weer 'n keer.  Let op al die opdragte of bevele of imperatiewe: volhard in gebed; wandel in wysheid; koop die tyd uit; praat soutbesprinkeld; wees onberispelik en opreg; skyn soos 'n lig; hou vas die woord van die lewe. Dis welbehaaglik vir die HERE.  

Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.  Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens (Kolossense 3:2 en 5). Want ons bedink wat goed is nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense (2 Korinthiërs 8:21).

Waaroor dink jy die heel dag lank? Die dinge wat daarbo is? 

Wees altyddeur bly.  Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie. Beproef alle dinge; behou die goeie.  Onthou julle van elke vorm van kwaad (1 Thesalonissense 5:16-22).

Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.  Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het. Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het, dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen. Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf. O, Timótheüs, bewaar jou pand en vermy die onheilige, onsinnige praatjies en teëwerpinge van die valslik sogenaamde kennis (1 Timotius 6:11-20).

Die enigste Een wat alleen onsterflikheid besit, wag iewers vorentoe vir ons...

Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning; wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. Maak voorsiening in die behoeftes van die heiliges; streef na gasvryheid; seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie; wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween; wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense…  As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Romeine 12:9-20).  Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het (Efesiërs 4:32).  Spreek onder mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here, terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God (Efesiërs 5:19-21).

Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing (Filippense 2:12).  

Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n oordeel val nie (Jakobus 5:12).

 … dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan,en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Efesiërs 4:22-24).

Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep. En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek; en ‘n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra (2 Timoteus 2:22-24).  En beproef wat die Here welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer (Efesiërs 5:10-11).

Wat sal ons van al hierdie dinge se?  Wat sal ons daaromtrent doen


No comments:

Post a Comment