Thursday, 16 May 2019

Vrugte wat by die bekering pas (12 van 12)


Aan hulle vrugte sal julle hulle ken (Matteus 7:16).
513 woorde

Jesus is aan die woord:  Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken (Matteus 7:15-20).

Hierdie uitspraak behoort verstaan te word in die konteks waarin Jesus dit uitgespreek het, naamlik binne die raamwerk van hoe mense wat binne die koninkryk van God lewe, se ordelike lewenspatrone behoort te lyk.

Matthew Henry lê hierdie perikoop soos volg uit: 

Profete se werk is nie net om te voorspel wat gaan kom nie, maar ook om mense te leer wat hulle pligte ise   Een hiervan is dat die vals profete se uitsprake op die oog af goed en reg klink – hoewel dit net daarop gerig is om hulle eie behoeftes te bevredig (Romeine 16:18).  Ons kan dus maklik mislei word.  

Die vrugte lei ons egter om te ontdek met watter soort boom ons te make het. 

Die boom en sy vrugte moet ooreenstem. 'n Appel kan wel aan 'n doringboom se doring hang, maar dit kan nooit daar groei nie.  So kan 'n slegte mens met 'n wreedaardige, onheilige hart, nooit goeie dinge voortbring nie. Ondersoek alle dinge (1 Thesalonissense 5:21), toets die geeste (1 Johannes 4:1) - dan sal jy die mens aan sy vrugte ken (Matteus 7:16-20).


Wanneer jy wil weet of iemand reg en goed is, neem sy lewensstyl waar.  Sy optrede sal vir of teen hom getuig.  Sy vrugte sal hom aan jou openbaar.  Wanneer mense voorgee om profete te wees, maar hulle lewe immoreel, vals, onderdrukkend en trots word gedryf deur allerlei begeertes, moet jy hulle suurdeeg (=invloed) vermy.  Diesulkes is nie deur God gestuur nie al verklaar hulle dit.  

F.B Meyer vestig die aandag met betrekking tot hierdie teks, op die volgende: 

Die aarde is vol bedrogskemas: vals geld, vals juweliersware en wie weet wat nog - insluitende vals godsdiens.  Vals godsdiens verraai ditself omdat dit nie selfverloening en die smal weg verkondig en as voorbeeld uitleef nie.  Vals godsdiens lewer ook nie goeie vrugte op nie.  

Die Bybelse toets vir die profeet is tussen goed en kwaad.  Die gedrag en nie die voorkoms nie, is die toets vir die korrekte en ware verhouding met God.  Selfs opregtheid is nie redding nie... Dis die standaard waarmee God op die laaste dag gaan oordeel.  Dis die standaard wat ons moet gebruik wanneer ons die profeet beoordeel. Sonder aansien des persoons.  

Hy trek niemand voor nie.

So - laat ons mekaar dan al meer en meer aanmoedig om vrugte te dra wat by die bekering pas soos wat ons die Dag van die Here sien nader kom.

Wolf in skaapsklere foto met erkenning aan lifehack.org



No comments:

Post a Comment