Thursday, 30 May 2019

Vermom...


Vermon…

1071 woorde

Met sy hemelvaart het Jesus die risiko geloop om vergeet te word.

Hy het self daarna verwys met die volgende gelykenisse:  die eienaar wat sy woonplek verlaat en op reis gegaan het en al sy besittings in die hande van sy kneg agtergelaat het; die bruidegom wat so lank talm om te kom dat al tien die strooimeisies aan die slaap raak; die baas wat talente (= goue muntstukke) aan sy knegte uitdeel en vertrek na ‘n ver land toe.

Met hierdie gelykenisse het Jesus die vraag van ons tyd: Waar-is God-dan-nou-vandag?, vooruit beantwoord.

Mense soos Friedriech Nietzche, Sigmund Freud en Albert Camus en Samuel Beckett het op hierdie vraag geantwoord: The landlord has abandoned us.  En wanneer dit waar is dat daar geen God meer hier – of elders - teenwoordig is nie, dan is alles toelaatbaar – soos Fyodor Dostoevsky sê. 

Jesus se gelykenisse aangaande die ‘afwesige God’ verwys juis na die eeuelange tydperk tussen sy hemelvaart en sy wederkoms. 

Wanneer ons nie God se teenwoordigheid op die aarde raaksien nie – en daarom dink Hy het ons verlaat -  is dit omdat ons dalk op die verkeerde plekke kyk…

Mens kan ook sê: Hy is nie afwesig nie, Hy het Homelf vermom.  

Hy sê immers self: die goeie daad aan ‘n onwaarskynlike vreemdeling, aan ‘n arm man, aan een wat honger is, een wat in die gevangenis is, of ‘n sieke en uitgeworpene persoon van die samelewing – is goeie dade wat aan Homself betoon is (Matteus 25:40).

Jesus is vandag hier teenwoordig in die vreemdeling wat jy raakloop, die bedelaar by die winkelsentrum, die honger straatvrou by die verkeerslig, die siek man wat by jou tuinhekkie vir ‘n geldjie of broodjie vra, en ja – Hy is teenwoordig in ons gevangenisse as die mense wat ons nie meer tussen ons wil ontvang nie…

Baffling disguise…  Onherkenbaar?  

Die Jode van die eerste eeu het Hom ook nie herken nie.  Al het hulle die legkaartverduideliking van sy leer en lewe in die OT opgeteken gehad.
Dit lyk my ons doen in ons dag nie veel beter as die Jode van destyds nie…

Babas word in ghettos gebore, derduisende mense is in hospirale, in tronke en in vlugtelingkampe en leef op staat in ons stede as haweloses. 

Jesus het geweet die wêreld wat Hy gaan agterlaat sal sulke mense hê. 

Sy korrtermynplan was om diesulkes in die hande te laat van diegene aan wie Hy opgelei het om uiteindelik die bevryding van die kosmos in te lei. En Hy het die voorbeeld vir sy volgelenge gegee deur Homself oor die uitgeworpenes en die sondaars te ontferm.
Jesus is hemel toe sodat ons sy plek hier kan inneem. Maar intussen werk Hy nog steeds hier.  Saam met ons.  Maar vermom.

Sy langtermyn plan is om met krag terug te keer om die planeet aarde eens en vir altyd reg te ruk. En in ooreenstemming te bring met God se oorsponklike plan.

Maar helaas, baie, baie van sy mense mense draai om en begrawe die talent of raak aan die slaap of mors die Eienaar se besittings op – en dan sien die wêreldlinge net die skaduwees wat die Lig bring en nie die Lig self nie…

En eintlik moet hulle vir Christus in ons sien (2 Korinthiërs 13:5; Galasiërs 4:10; Kolosensse 1:27).  Dis deel van Jesus se plan.

Die Jode van Jesus se tyd wou nog altyd ‘n sigbare koninkryk gehad het: een wat sorg jy het genoeg om tee et, ‘n goeie werk, ‘n sterk weermag om invallers in toom te hou. 

Jesus het egter ‘n koninkryk aangekondig wat vereis jy moet jouself verloën, jou kruis opneem en Hom volg; een waarin jy al jou goed moet weggee en jou vyande moet liefhê. 

Soos Jesus meer besonderhede oor sy koninkryk gegee het, het die massas se verwagtings verkrummel…

Hy het selfs verduidelik sy koninkryk kom met ‘n krag wat weerstaan kan word: dis nederig en sonder obstruksies en bestaan en groei te midde van die boosheid romdom dit (in die gelykenis van die koring en die onkruid). 

Patriotiese Jode wat die wet van Moses geken het, was nie beïndruk nie. 

Hy het immers verklaar dat die onderdruktes geseënd is, en het hulle nooit operoep tot opstand en revolusie nie of om hulle slawejukke met geweld af te gooi nie.  Ras.  Velkleur.  ‘n Dief aan ‘n kruis.  ‘n Owerspelige vrou of man. Selfs hulle almal is welkom in sy koninkryk.  Ondenkbaar vir wetsgehoorsames…

In die koninkryk van Jesus word ek opgeroep om die vrou lief te hê wat sopas by ‘n aborsiekliniek uitgestap het, ‘n vrou wat vyf mans gehad het, moet ek liefhê, ‘n dief wat aan ‘n kruis sterf moet ek liefhê.  Die boemlaar wat besig is om ‘sy lewe hier op te mors’, moet ek liefhê.  Sonder voorwaardes.  Soos Hy met my maak.

Die mens self is in Jesus se koninkryk belangriker as enige etiket - of enige sonde… 
Die koninkryk van God roep my op om die man wat besig is om aan HIV-VIGS te sterwe, lief te hê. Die koninkryk van Jesus se grondwet vereis dat ek die welaf grondeienaar wat die natuur verniel, sal liefhê.  Die koninkryk van God roep my op om die seun of dogter wat hulle rug op hulle ouers draai, lief te hê.

Indien ek sulke mense nie werklik kan liefhê nie, moet ek myself afvra of ek dan die evangelie werklik reg verstaan het…

Politieke partye trek grense tussen mense en bewegings en maak onderskeidings en kondig oordele aan oor diegene wat anders as hulle beleid dink.

Jesus se koninkryk sny die grense tussen mense en bewegings deur, dit transendeer onderskeidings en deel genade uit. Onverdiend. Politieke partye loop die risiko om die mantel van mag vir hulleself om te hang.  En so word liefde  - die hart van Jesus se koninkryk - versmoor. 

Enige aktivisme mag nooit die waardigheid van die mens (wat na die beeld en gelykenis van God geskape is) en liefde vir God en jou naaste, uitdryf nie.

Indien wel, verraai jy die Koning en die koninkryk van God. 

En daar kom ‘n dag wanneer ons almal voor die Koning self sal moet antwoord oor wat ons gedoen het toe Hy ‘vertrek het na ‘n ver land’.

Omdat ons nie sy vermomming herken het nie, is dit nie vir ons ‘n verskoning wees nie…

Gebaseer op
1995.  P. Yancey.  The Jesus I never knew.  Grand Rapids, Michigan.  Zondervan Publishing House.

No comments:

Post a Comment