Thursday, 31 March 2016

Vrede

Vrede
761 woorde

In die Bybel verwys vrede na baie meer as slegs die afwesigheid van oorlog tussen mense. Dit verwys na versoening met God. 

Die bron van hierdie soort versoenende vrede is God self.  Jesus Christus is God se Vredemaker (Efesiers 2:14; Johannes 14:27; Johannes 16:33). Hy het reeds vrede gemaak tussen God en mense wat teen Hom rebelleer.  Hy het hierdie vredesooreenkoms met sy eie bloed onderteken.  Golgota is die grootste voorbeeld van vrede maak.  Dit het onomkeerbare vrede en versoening tussen God en mense bewerk.  Vir ewig.  

Die Bybel leer Golgota is God se laaste woord oor vrede.

Dis meer as interessant om te onthou dat die geskiedenis van die mens begin het met vrede tussen God en mense (Genesis 1-2). Dit het egter (skynbaar) nie te lank gehou nie... Daarom, toe die tyd daarvoor ryp was, het God die Vredemaker gestuur (Galasiers 4:4).

Ons, die volgelinge van Jesus, is veronderstel om soos Hy te wees:  "Hy wat sĂȘ dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel [= lewe] soos Hy gewandel [= gelewe] het" (1 Johannes 2:6). Dit lyk vir my hierdie uitspraak beteken dat ons soos Jesus moet dink en praat, en doen wat Hy gedoen het - dan  'wandel'  ons soos Hy gewandel het.


En wanneer jy soos Jesus begin wandel, sal jy vervolg word - jy sal nie vrede kry nie - nogtans leer Hyself (Matteus 5:10-12):  "Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.  (En jy moet dit as salig (makarios = gelukkig) beskou wanneer jy wel vervolg word...) "Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele... "

Mense wat vrede tussen God en mense wil bewerk, kry nie 'n toekenning, bevordering of 'n verhoging in salaris of 'n groot gemeente met 'n goeie inkomste en met goeie kerkraadslede nie. Hier word hulle vervolg (dioko = agtervolg; vervolg; oorgee aan swaarkry; vlug).  Maar in die hemele is hulle misthos (betaling vir diens; beloning; loon) polus (baie; groot; dikwels; orvoedig/volop).  

Die mense wat hier en nou wel in vrede met God lewe, is egter ook hier en nou moeilikheidmakers - want hulle openbaar die oorlogswrywing tussen God en die ongereddenes wat sy teenstaanders is (Psalm 107:6; Handelinge 17:6).  En dis juis hierdie wrywing wat op vervolging uitloop.  Vredemaking lei tot vervolging.  Dit - vervolging - het vir Jesus ook getref.  Dit sal ons ook tref - want die leerling is nie groter as sy Leermeester nie (Matteus 10:22-25).

Nietemin is die volgeling van Christus 'n vredesverspreider.  Dis immers wat mense wat rein van hart is doen (Jesaja 32:17; Jakobus 3:17-18).  Ons werk  (nie soseer om 'n sukses van ons besigheid te maak nie) is om vrede te maak (Romeine 5:1; Filippense 4:7). 


Vredemaking is die bediening van die versoening tussen God en mense deur Christus.  Hierdie bediening van versoeking is wat aan ons toevertrou is (2 Korinthirs 6:18).

Ons moet in die eerste plek vrede maak met die broers en susters wat van ons verskil (Matteus 5:23; Matteus 18:15-17).  
Omdat ons vredemakers is, moet ons ook vrede bring na en maak met ons vyande (Matteus 5:38-42).   Moenie wraak neem nie (Romeine 12:19-21).  

Sover dit van jou afhang, leef in vrede met almal - dit sluit jou vyande in (Romeine 12:18).  

Vrede versprei die wysheid wat van bo kom (Jakobus 3:17).

Wanneer jy begin vrede maak op hierdie Bybelse manier, sal mense jou begin behandel soos hulle vir Jesus behandel het.  Maar dan moet jy soos Jesus, nie die geveg vermy nie, maar dit ombuig en versoening met God aan die mense voorhou (Romeine 5:5; Galasiers 5:22).  "Salig (makarios = supremely blessed; gelukkig; goed daaraan toe; salig) is die vredemakers, want hulle sal kinders (huios = seuns) van God genoem word' (Matteus 5:9).

Die vrede waarvan die Bybel praat versoen mense vir ewig met God.  Dis vrede.

Die seen van vrede is godvrug (euebeia = peiteit; heiligheid; godsvrug).  

Dit het ook meer as interessante waarde om te weet die geskiedenis van die mensdom sal eindig met ewigdurende vrede tussen God en die mense (Openbaring 21).  Vrede maak het ewigheidswaarde.   Daardie soort vrede is nou reeds beskikbaar.  

Dis ons verantwoordelikheid om dit te versprei met die wyse waarop ons ons lewens inrig.



Nota
Die woord vrede kom 184 keer in die OT voor in 167 verse.  Dit kom 95 keer voor in die NT in 88 verse.

No comments:

Post a Comment