Kom-terug-byeenkomste
1094 woorde
Roger Tohman was eers die predikant van 'n 'gewone' gemeente. In die gemeente het hy dit as sy plig beskou om as deel van sy werk 'n 'atmosfeer van aanbidding' daar te stel. En dit het eintlik beteken, volgens hom, dat hy eintlik moes sorg dat die lidmate elke Sondag 'n kuns genoeg ervaring beleef sodat hulle sal terugkom vir meer: gemaklike sitplekke, goeie musiek en goeie sang, koffie en tee - en natuurlik 'n preek wat almal se aandag deurentyd sal boei. Hy reken die gereelde byeenkoms van eredienste het die hoofkenmerk geword van wat dit in ons dag beteken om 'n Christen te wees.
Merklysie
Ek dink dis in Suid-Afrika nie veel anders nie. In baie gevalle het godsdienstige aktiwiteite die persoonlike en lewende verhouding met Jesus Christus vervang. By die kerk Sondag? Ja. Bybel gelees gedurende die week? Ja. Gebid? Ja. Dalk nog 'n vergadering by die kerkgebou ook bygewoon? Ja. Tiende gegee? Ja. Thats it. Omtrent net die predikant en die kerkraadslede is aktief besig met dinge om die gemeente se strukture aan die gang te hou. Die limdate kom net om die byeenkomste by te woon.
Wanneer die lidmate dan hierdie byeenkomste bygewoon het, dink mense hulle het gedoen wat van 'n goeie Christen verwag word. En die prediker dink hy het met sy goeie kom-volgende-week-terug-vir-meer-byeenkoms geslaag.
Knus?
Tohman stel dit voorts duidelik dat Jesus nie gemaklike Christenskap verkondig of beoefen het nie. Daar was omtrent niks gemaklik in die lewe en werk van Jesus van Nasaret se lewe en werk hier op aarde nie. Dieselfde geld vir sy eerste en daaropvolgende volgelinge van die eerste eeue nadat Hy opgevaar het. Nie knus Christenskap nie. Verseker veeleisend...
Tot sover wat Tohman skryf.
Lees nou bietjie hier wat het Christus self geleer aan diegene wat Hom wou volg:
Sonder woning
Jesus het iemand wat Hom wou volg, daarop gewys dat Hy nie eers 'n plek het om sy kop neer te le nie (Matteus 18:20). Die betekenis van hierdie uitspraak vir die persoon wat Hom wou volg is duidelik: wanneer jy My navolg, moet jy besef jy werk vir Iemand wat hier homeless is en dat jy waarskynlik sy homelessness met Hom sal moet deel. Daar is nie gemaklike sitplekke by Jesus nie...
Selfverloening
"As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloen en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind" (Matteus 16:24). Jouself verloen? Kruis opneem? Lewe verloor? Daar staan nogal 'n moet in hierdie uitspraak... dit beteken die volgeling het nie 'n keuse nie... Selfverloening praat van iets wat minstens moeilik is...Dit pas nie in by gemaklike Christenskap nie...
Los alles
"As iemand na My toe kom en hy haat (ou miseo = haat; verfoei; vervolg; minder liefhet) nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie" (Lukas 14:26). Die ou in die Grieks verwys na 'n absolute negatief: dit beteken dit kan glad nie gebeur nie. Dis 'n totale verbod. Sterk woorde. Dis iets wat jy moet doen: jy moet jou gesinslede minder liefhe as vir Christus; jy moet jou lewe minder liefhe as vir Christus. Indien dit nie so is nie, kwalifiseer jy nie as 'n dissipel nie. Jy kan dan nie een wees nie...
En dis nog nie al nie... Niemand wat nie van al (pas = alles; elke; elkeen; almal;enige; elkeen) sy besittings afstand doen nie, kan ook nie Jesus se dissipel wees nie (Lukas 14:33). Nie net die tiende nie. Nie net jou geld nie. Alles. Sterk woorde - inderdaad. Dit klink hiervolgens of die kapitalistiese geldstelsel van besitreg glad nie hoog aangeslaan is deur Jesus nie... Hierdie uitspraak pas ook nie in nie by knus-gemaklike Christenskap nie.
Walk the talk
Jesus het vir die Jode wat Hom geglo het, ook gesê: "As julle in My woord bly (meno = aanhoudend bly; uithou/vasbyt [endure]; bly soos dit is; standvastig staan), is julle waarlik My dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak" (Johannes 8:31). Dit lyk my dis slegs diegene wat in Jesus se woord bly wat die waarheid sal ken wat vrymaak. Niemand anders nie... Dit vra inderdaad vasbyt. Dit praat nie van die inneem van en instemming met goeie en boeiende prediking op gemaklike sitplekke nie...
Dra vrugte
"Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrugte dra; en julle sal my dissipels wees " (Johannes 15:8). Op 'n ander plek word die vrugte van die Gees (Galasiers 5:22) gelys as liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, nederighid, en selfbeheersing. Bywoning van kerklike vergaderings, koffie en tee, goeie musiek en sang en boeiende prediking is nie ingesluit as (tekens van) vrugte wat hou nie.
So?
Dit lyk my een van die hoofkenmerke van die 21ste eeu se Christenskap kan gereduseer word tot kom-na-ons-byeenkomste: want ons het gemaklike sitplekke, goeie musiek en sang, boeiende prediking. En sonder om dit te se, insinueer ons - en verder word daar nie veel wat van jou verwag word nie. Jy kan maar passief wees. Knus Christenskap, soos Tohman dit beskryf.
In hierdie paar tekste wat ek gebruik het, is dit duidelik die Bybel leer eerder gaan-na-die-ander-etniese-groepe-toe. Dis immers die laaste woorde van Jesus (Matteus 28:19) voor Hy 'weg' is. En in die proses, het Hy duidelik laat verstaan dat ons heelwat dinge in ons lewens moet verander...
Los alles. Doen ander dinge.
Moenie jou gesinslede belangriker ag as die verspreiding van die evangelie nie. Selfs nie jou eie lewe nie. Doen die wil van God. Lees hier (Matteus 7:21): "Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is." Die teks praat nie eers van gemaklike kerkbyeenkomste nie...
In ons dag het ons die klem daarop om die mense te kry om te kom (na ons 'goeie' byeenkomste) toe. Jesus het die klem gehad daarop dat ons alles moet agterlaat en moet gaan na diegene wat nog nie in die oes opgeneem is nie (en die wil van God doen)...
Roger Tohman se boekie oor huiskerke is hier gratis beskikbaar: http://www.simplechurchrevolotion.com/.
No comments:
Post a Comment