Thursday, 27 October 2016

Toe en Nou

Die eerste paragraaf (Toe) kom uit 1 Korinthiers 14:26-40).  Dis 'n beskrywing van hoe die samekoms van gelowiges Toe gebeur het.  Jy ken dit.  Wat jy dalk ook - soos ek - misgelees het, is vers 37...  Die tweede paragraaf (Nou) is saamgestel deur Rusty Entrikin.  Ek ken hom nie.  Maar wat hy skryf, het my - op die minste baie onrustig... want niks daarvan staan iewers in die hele Bybel nie...  en tog is dit wat Nou in kerke gebeur...


 Toe (die NT wyse van die byeenkoms van gelowiges)

"Hoe staan die saak dan?  Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle 'n psalm of 'n lering of 'n openbaring of 'n uitlegging - laat alles tot stigting geskied.  En as iemand in 'n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte; en laat een dit uitlê.  Maar as daar geen uitleêr is nie, laat hy in die gemeente swyg, en laat hy met homself en met God spreek.  Laat twee of drie profete spreek en die ander dit beoordeel.  Maar as daar iets geopenbaar is aan 'n ander wat daar sit, laat die eerste swyg.  Want julle kan almal een vir een profeteer, sodat almal kan leer en almal bemoedig word.  En die geeste van die profete is aan die profete onderworpe: want God is nie 'n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heliges.  Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.  Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek.  Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?  As iemand meen dat jy 'n profeer of geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is.  Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly.  Daarom broers, beywer julle om te profeteer en moenie verhinder dat daar in tale gespreek word nie. Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan" (1 Korinthiers 14:26-40).

Dis die bevele (entole = odrag; outoritêre voorskrif; bevel; gebod) van die Here insake hoe ons byeenkomste moet wees...

Nou (die wyse waarop gelowiges vandag byeenkomste hou)

'How is it then, brethern?  When ye come togehter, the pastor hath a doctrine, and the minister of munic hath psalms.  Let all things be done unto worship.  If anyone besides the pastor hath a doctine, let him not speak; let him hold his peace.  Let him sit in the pew, and face the back of the neck of the person which sitteth ahead of him.  Let the people keep silence in the churches; for it is not permitted unto them to speak; but they are commanded to be under obedience, as also saith church tradition.  But if they will learn anything, let them ask their pastor after the service, for it is a shame for a layman to speak in the church.  For the pastor, he hath a seminary degree, and the layman, he hath not so lofty a degree.  If any man desire to remain a church member in good standing, let him acknowledge that what I write to you is the command of the denominational headquarters.  But is any man ignore this, he shall be promptly escorted out the door by the ushers.  Wherefore, brothers, covet not to speak in the church.  Let all things be done decently and in the order in which it hath been written in the church bulletin'.

Waar kom hierdie manier van byeenkomste dan vandaan?  Daar is nie voorbeelde of opdragte in die Bybel hiervoor nie...

Thursday, 20 October 2016

Opstanding

Opstanding
588 woorde

 Verlede week het Wessel se familie en vriende sy oorskot vir die laaste keer op hierdie aarde gegroet..  

Sy sterwe het my opnuut laat fokus op wat die Bybel leer wat na die dood vir ons wag.  

Dis natuurlik die opstanding uit die dood.

In Hebreers 9:27 staan daar geskrywe die mense is bestem (apokeinai = voorbehou; wag; weggesit; bestem) om een maal te sterwe en daarna volg die oordeel (krisis = tribunaal; geregtigheid deur middel van die goddelike wet; beskuldiging; veroordeling; verdoemenis; oordeel).

Almal staan op uit die dood: sommige vir die ewige tweede dood (Openbaring 20:14; Openbaring 21:8) en ander vir die ewige lewe (Matteus 19:29; Markus 10:30; Johannes 3:16; Johannes 6:40).  

Daar is nie enige ander alternatief nie.  Na ons biologiese dood volg (een of ander tyd) ons ewige (tweede) dood of ons ewige lewe.

Daar is nie uitkomkans nie: jy lewe, jy sterwe, en dan word jou lewe deur God geoordeel. En sy oordeel is finaal.  Daar is geen appel moontlik nie.  Nooit nie.

Die Bybel leer baie dinge aangaande die opstanding van die gelowige mens tot die ewige lewe...  Hier is 'n paar sulke uitsprake:

Die opstanding van die gelowige dooies gebeur wanneer Christus weer kom (1 Korinthiers 15:23).  Dit is ons natuurlike (biologiese) liggaam wat sterwe, en dit is 'n bonatuurlike (geestelike) liggaam wat opgewek word (1 Korinthiers 15:44).  

Die heerlikheid (doxa = waardigheid; eer; heerlikheid) van die aardse biologiese liggaam verskil van die heerlikheid van die ewige hemelse liggaam (1 Korinthiers 15:40).  

Die aardse lewe is verganklik (phthora = verval; ondergang; korrupsie; vernietig; vergaan), die hemelse lewe is ewigdurend (aphtharsia = onverganklikheid; oneindigende bestaan; opregtheid; egtheid; onverganklikheid)  (1 Korinthiers 15:42).  

Die biologies lewe word gekenmerk deur swakheid (asthenia = swakheid van liggaam en gees; kwale; morele swakheid; siekte) , die opgewekte lewe word gekenmerk deur krag (dunamis = wonderwerkende krag; vermoe; oorvloed; mag; krag) (1 Korinthiers 15:43). 

Die aardse stoflike mens dra die beeld (eikon = gelykenis; standbeeld; verteenwoordiging; ooreenkoms) van die aardse (choikos = stowwerige; vuilerige [siel]; aardse) en die ewige hemelse mens dra die beeld (eikon) van die ewige hemelse (epouranios = bokant die lug; hemelse) (1 Korinthiers 1:49).

Vir diegene wat nog biologies lewendig is sal hierdie oorgang van die aardse tydelike na die hemelse ewige plaasvind vinniger as 'n oogwink (1 Korinthiers 15:52).  In 'n atomos ('n oomblik van tyd; onverdeelbare oomblik; moment).

God sal dan die gelowiges se thnetos (aanspreeklikheid om te sterf; sterflikheid), verander na athanasia (doodloosheid; onsterflikheid) (1 Korinthiers 15:54).  Dan word die dood (thanatos) ingesluk en verteer en verdrink (katapino) deur die nikos (oorwinning; verowering; oorwinning).  

So vernietig God dan die kentron (prik; prikkel skerp punt; angel) van die dood vir die dissipels van Jesus Christus.

Dit verwys na die komende opstanding van die afgestorwe gelowiges. Hierdie is 'n oorwinning wat aan die gelowiges geskenk word deur Kurios (die Here; die Meester; God; Oppergesagdraer; hoogste in krag; Kontroleerder; Christus).

Wessel het klaar op hierdie aarde gelewe.  Sy verwisseling van die tydelike met die ewige is afgehandel.  Vir altyd.  Die oordeel van God wag vir hom.  Ons lewe nou nog.  Ons afsterwe wag iewers in die toekoms vir ons (tensy ons deel word van die oombliveranderdes).  Hoe dit ookal sy - ons tyd vir beoordeling deur God wag ons ook af.  Soos vir Wessel.

Die belangrikste vraag vir elkeen van ons - vir tyd en ewigheid - is:  Waar plaas God se oordeel jou?  In die ewige dood of in die ewige lewe?  

Die Bybel leer mens hoe ons nou reeds kan weet.







Thursday, 8 September 2016

Beproef jouself...

Die korrekte deelname aan wat bekend geword het as die Nagmaal kan gelowiges gesond hou en 'n voortydige afsterwe laat vryspring.

In 1 Korinthiers 11 beskryf Paulus wat Jesus aan hom meegedeel het insake die instelling van wat bekend geword het as die Nagmaal.  

Een van die sake wat hy aanroer staan in 1 Korinthiers 11:28 so opgeteken:  "Maar die mens moet homself beproef (dokimazo = toets; eksamineer/ondersoek) en só van die brood eet en uit die beker drink..."  

In ander woorde beteken dit jy moet jouself ondersoek voor jy van die brood eet en uit die beker drink.  Waarna jy moet oplet tydens die selfondersoek is duidelik:

Die teks verduidelik dan verder dat diegene wat op onwaardige (anaxios = onwaardig; oneerbiedig; disrespekvol) wyse deelneem, bring 'n oordeel (krima = 'n besluit teen 'n misdaad; wraak neem; ooreel; verdoemenis) oor hulleself. Jy moet ondersoek of jy op 'n waardige wyse deelneem.

Sterk woorde: Mens kan 'n oordeel oor jouself bring wanneer jy Nagmaal onwaardig, of dan oneerbiedig, gebruik.  

Kortweg: indien jy oneerbiedig aan die Nagmaal deelneem, bring jy 'n wraakgerig op jouself af en/of verdoem jy jouself.  En dit (die wraakgerig wat jy op jouself afbring) gebeur op sy beurt omdat jou oneerbiedige deelname beteken jy onderskei (diakrino = deeglik onderverdeel; diskrimineer; maak om te verskil; onderskei; [be]oordeel; beoordeel waarlik reg) nie die liggaam van die Here reg nie (vers 29).

Vers 30 sê dit (omdat jy die liggaam van die Here nie waarlik reg beoordeel nie) is ook  die rede waarom daar "... baie swakkes en sieklikes onder julle is en ‘n aantal het ontslaap." 

Dis nog sterker woorde: die rede wat hier aangegee word van waarom daar baie van die gemeente in Kotinthe is wat sieklik is en (vroeg?) dood is, hou verband met die feit dat hulle nie - wanneer hulle aan die Nagmaal deelneem - dit met die nodige eerbied en respek vir die liggaam van Christus (wat juis vir ons genesing gebring het volgens Jesaja 53:4 en 1 Petrus 2:24), doen nie.

Lees nou nog bietjie verder:  "Want as ons onsself beoordeel (diakrino = deeglik onderskei; diskrimineer; reg beoodeel) het, sou ons nie geoordeel (katakrino = oordeel teen ; straf; verdoem) word nie" (1 Korinthiers 11:31).  

Nog sterk woorde: Wanneer jy aan die Nagmaal deelneem en jy die liggaam van Christus met die nodige respek reg onderskei het, gaan sieklikheid en siektes en ontydige dood (as 'n oordeel) jou nie tref nie...

En dan verduidelik die teks verder:  "Maar as ons geoordeel (krino) word, word ons deur die Here getugtig (paideo = tugtig; opvoed; dissiplineer; leer) , sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel (katakrino)  mag word nie (1 Korinthiers 11:32).  

Kyk nou hier:  Diegene wat wel die liggaam van Christus met die Nagmaal nie reg onderskei nie en tog wel sieklikheid opdoen en siek word en of voortydig te sterwe kom, beleef eintlik 'n dissiplinering van die HERE - en dit lei daartoe dat die ewige dood nie hulle voorland is nie...  

Dit lyk vir my die kort en lank van alles wat hier geskryf staan, is die volgende:  Wanneer jy aan die Nagmaal deelneem, moet jy jouself ondersoek of jy wel deeglik bewus is daarvan dat Jesus se liggaam (se wonde) vir jou genesing bewerk het.  Indien jy dit nie doen nie, loop jy die risiko van sieklikhede en siektes en selfs 'n voortydige dood - en dit is op sy beurt eintlik ook tot die voordeel van die gelowige sodat hy gered kan word van God se veroordeling. 

Dit lyk my hierdie paar versies leer dat een van die bedoelings van die Nagmaal is om gelowiges gesond te hou - en selfs om vir sommige 'n voortydige afsterwe te laat vryspring.

Dit sal - so lyk dit vir my - op ernstige verdraaings en inleeskunde en uitleeskunde neerkom - indien mens aan hierdie teks enige ander betekenis wil gee.  Die Heilige Skrif sê immers wat die bedoel en bedoel wat dit sê.



Friday, 26 August 2016

Impak

In die Bybel lees ons in 1 Korinthiers 12:4-11 en 14:26-37 van merkwaardige dinge met betrekking tot die byeenkoms van gelowiges.  

Dis merkwaardig veral wanneer mens dit lees net soos dit daar staan...


In 1 Korinthiers 14:26-37 lees ons hoe die byeenkomste van die eerste gemeentes gereel is:

elkeen bring 'n psalm of a lering
elkeen bring 'n openbaring of 'n uitleg
iemand praat 'n taal wat ander nie verstaan nie
iemand anders of hyself gee die vertaling daarvan (sonie swyg hy)
twee of drie profete kom aan die woord
die ander wat teenwoordig is beoordeel wat die profete sê
wanneer iemand 'n openbaring kry, moet die ander swyg en luister.
almal kan een vir een profeteer (sodat almal kan leer en bemoedig word)
Vers 37 sê duidelik dat bogenoemde bevele van die Here is.

Hier (of elders in die NT) is nie sprake van een persoon wat vir die ander wat by die byeenkoms van gelowiges teenwoordig is, preek nie. Elkeen het iets gebring.

Dis duidelik dat die byeenkoms soos dit hier in 1 Korinthiers uiteengesit is, so saamgestel is dat die gelowiges tydens hulle byeekoms by mekaar geleer het - Jesus het immers gese leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het (Matteus 28:19).  Elkeen het iets vir iemand anders gebring.

Die aard van byeenkomste in kerke maak dit ook onmoontlik vir elkeen om 'n psalm of 'n lering of 'n openbaring of 'n uitleg te bring.  Daar is net een wat besluit oor die liedere wat gesing word, en dis dieselfde persoon wat preek (en dis gewoonlik nie lering of openbarings nie).


Verseker kom daar in die kerkdienste van ons tyd ook nie twee of drie profete aan die woord nie.  Daar is net een prediker wat preek.  En almal wat daarna luister het sekerlik die geleentheid om dit te beoordeel - maar hulle beoordeling bly privaat en kan nie in die groep beoordeel (of dan getoets) word nie.

Die orde van die kerklike byeenkomste soos dit in ons tyd plaasvind, maak gladnie voorsiening daarvoor dat die prediker onderbreek kan word omdat iemand anders 'n openbaring ontvang nie...

In die byeenkomste word daar deesdae darem meestal slegs een taal gepraat wat almal verstaan.  Meertaligheid in ons tyd is opgelos deur kerke te stig rondom taalvoorkeur. Daarom kom mertaligheid baie min voor en is vertaling tydens die byeenkoms selde nodig.

Hierdie uiteensetting van die byeenkomste van die ekklesia is voorafgegaan in 1 Korinthiers 12 met 'n lysie van die gawes wat aan die gemeentelede gegee is en waarvan mens dus manifestasie tydens (en seker ook voor en na) die byeenkomste kon verwag:

die woord van wysheid
die woord van kennis 
geloof 
gesondmaking
werkinge van kragte
profesie
allerhande tale
uitleg van tale

... en alles word toegedig aan uitdrukkings van die Heilige Gees.

Wat het hiervan geword?  

Dit lyk vir my die ontsagwekkende impak van die eerste eeu se gemeentes wat soos hierbo beskryf gefunksioneer het, is omtrent stukkend.  Paulus en sy span het in groot moeillikheid gekom nadat hulle in slegs twee jaar die hele ekonomie van Efese omgekeer het - en die stadsbewoners het hom daaroor gestenig en vir dood agtergelaat. En die bevraagtekenbare samekomste van die een-en-twintigste eeu se kerke wat heeltemaal anders funksioneer, het deesdae omtrent geen impak nie en begin vinnig leegloop... Daar is tans derduisende kerke in Suid-Afrika (en in net een groot stad sekerlik baie honderde kerke) - maar hulle het min of
meer geen impak nie op die ekonomie van enige stad nie, om nie eers te praat van enige impak op korrupsie en misdaad nie.  En dit terwyl by die tagtig persent mense in Suid-Afrika hulleself as Christene beskou... 

Dis geen wonder nie dat Jesus gese het (Lukas 18:8):  "... as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?" 








Thursday, 30 June 2016

Aan die Afrikaners...

Aan die Afrikaners...
671 woorde

Die brief aan die Romeine kon net sowel die Brief aan die Afrikaners gewees het. 

Die evangelie kan met reg die belangrikste boodskap in die geskiedenis van die mensdom genoem word.  

Tog is daar baie mense wat die evangelie gehoor het, maar nie ten volle verstaan nie - omdat baie mense vandag dink hulle is OK wanneer hulle die sondaarsgebed gebid het en begin kerk toe gaan... 

maar hulle word nie werklik dissipels nie..

Die brief aan die Romeine kon werklik net sowel die Brief aan die Afrikaners gewees het.

Die Romeine van destyds en die Afrikaners van vandag is immers in dieselfde posisie ten opsigte van die evangelie.  Die Romeine het nie soos die Jode van destyds, onder die wet van Moses opgegroei nie.  Die Afrikaners van vandag ook nie.  Daarom is die boodskap van die boek aan die Romeine dan ook so goed van toepassing op die Afrikaners van ons dag.

Die brief aan die Romeine (3:19-23) gee 'n kragtige kort uiteensetting van die volle evangelie.  Kortweg is dit wat hier geskrywe staan:   

Wetsonderhouding help jou net mooi niks.

Die wet maak eintlik net bekend wat sonde nou eintlik is.  Maar die boek aan die Romeine maak bekend dat geregtigheid by God nie deur die wet verkry kan word nie.  Slegs volledige perfekte nakoming van die wet is vir God aanvaarbaar.  En niemand kan reg genoeg lewe om homself van God se straf vir sonde te red nie.  

Slegs regverdigmaking sonder die wet kan help...

... en dis natuurlik deur geloof in die plaasvervangende (ver)soenverdienste van Christus.  Almal het gesondig en is onaanvaarbaar vir God.  Maar Jesus het die wet onder die knie gekry op die enigste wyse wat vir God aanvaarbaar is:  Hy het dit korrek interpreteer, korrek geleef en selfs die straf vir die oortreding van enige van die wette, straf op Homself geneem - in ons plek.

Geloof is die sleutel...

... om daaraan deel te kry.  Dis die enigste wyse waarop jy in die regte verhouding met God kan kom.  Geloof is jou hand wat jy uitsteek om die genade wat God op hierdie plaasvervangende werk van Christus vir jou gedoen het, te ontvang.  En God behandel almal eenders.  Hy trek nie sommige mense of volke voor nie.  Die gunsbetoning is vir almal.  Afrikaners.  Tswanas.  Zulus.  Xhosas.  Nie een is beter of slegter as die ander nie. En die prys wat betaal is, is dieselfde vir almal en elkeen.

... en dis gratis... en jy kan dit nie verdien nie...

"... en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is" (Romeine 3:24).  Die straf is vir almal betaal.  In God se hof is daar diegene wat onskuldig verklaar is.  Niemand sal ooit weer enige klagte teen hulle kan inbring of laat standhou nie. Jesus het die straf gedra.  Wanneer jy dit aanvaar en aanneem (glo) dat dit ook vir jou bedoel is, is jy vry van enige beskuldiging voor God.  Hoewel dit gratis is, is die vryspraak ten duurste gekoop deur Jesus Christus.  Jou verlossing is die duurste item in die heelal.  Dit het die God-mens sy lewe gekos.  

Die versoening is afgehandel... 

... geregtigheid het geskied: die prys vir die sonde is betaal en die Regter is tevrede. Nie omdat ons jammer is oor ons sonde nie.  Om net een rede: die straf is voltrek.  Jesus het 'n klasaksiehofsaak vir ons gewen.  

Hoekom?

Ek gee vir jou oorweging die volgende antwoord:  Ja.  Natuurlik omdat Hy ons liefhet.  Om geen ander rede nie.  Nie sodat die Afrikaners of die Twanas hulle kultuur kan handhaaf nie.  Nie sodat een groep mense (die gereddes) hulleself kan afsonder van 'n ander groep mense (die ongereddes) nie.  Die Afrikaners se Afrikanerskap is 'n middel om die HERE mee te dien.  Die Tswanas se Tswanaskep is 'n middel om die HERE mee te dien.  Niks meer nie.  Niks minder nie. 

Die boodskap van die Brief aan die Romeine is vir almal.  Ook net so vir die Afrikaners.




Thursday, 23 June 2016

Geloof praat

Geloof praat
696 woorde

God was vir my goed en het my die opdrag gegee om mense te vertel van hierdie nuwe manier waarop Hy nou met hulle werk.  Daarom word ek nie moedeloos nie.  Enigiets waaroor 'n mens jou sou skaam as ander dit weet, het ek laat staan.  Waar ek vir mense die woord van God bring, verdraai ek dit nie en ek probeer hulle ook nie om die bos lei nie.  Ek praat die waarheid sonder om doekies om te draai en dan laat ek dit aan elkeen oor om die saak in sy eie gewete uit te maak waar hy en God alleen bymekaar is.

As daar dan nog mense is wat ons boodskap nie kan verstaan nie, is dit die wat verlore gaan.  Hulle go nie, want Satan, wat die god van hierdie wêreld is, het hulle verstand blind gemaak.  Daarom kan die lig wat daar uit Christus straal nie in hulle harte inskyn nie. Hierdie lig kom uit die boodskap oor Christus - dat Hy presies net soos God is. As ek preek, probeer ek nie om mense se aandag op myself te vestig nie, maar ek vestig hulle aandag op Christus Jesus.  Ek vertel dat Hy die Here is; en wat myself betref, sê ek net dat ek julle nou dien ter wille van hierdie Jesus.  Dit is God wat heel aan die begin gesê het: "Laat daar lig wees en plaas van die donkerte."  Dit is dieselfde God wat ook sy lig in ons harte laat val het, en nou kan ons iets sien van die heerlikheid van God as ons na Jesus Christus kyk.

Die wonderlike krag wat deur my werk, is God se krag en nie myne nie.  Ek is soos 'n eenvoudige erdepot waarin daar iets baie kosbaars gesit is.  Van alle kante af sak moeilikheid op my toe, maar hulle druk my nie plat nie.  Ek verstaan nie altyd waarom dinge gebeur nie, maar dit maak my nie moedeloos nie.  Daar is mense wat my vervolg, maar ek staan nie alleen nie - die Here is by my.  Partymaal is ek platgeslaan, maar ek gaan weer aan.  Elke dag ondervind ek in my lewe iets van die lyding en dood van Jesus sodat dit ook in my lelwe gesien kan word dat Hy werklik lewe.  'n Mens kan sê dat ek my hele lewe lank aan doodsgevaar blootgestel is ter wille van Jesus, maar juis dan word die lewe at jesus my gee, gesien in my aardse bestaan wat op pad is na die dood toe.  Dit beteken dat ek Christus se dood ondervind, maar aan die ander kant ondervind julle dat Hy in julle lewe. 

In die Skrif staan daar:  "Ek het gepraat omdat ek geglo het."  Dit is die soort geloof wat ek ook het.  Ek vertrou op God en daarom is ek nie bang om van Hom te praat nie.  Ek weet verseker dat God, wat vir die Here Jesus uit die dood lewendig gemaak het, ook vir my sal lewendig maak saam met Jesus.  En as ek weer lewendig gemaak is, sal God my saam met julle voor sy troon laat staan. Alles wat ek doen, is ter will van julle.  Ek wil hê dat daar nog baie meer mense moet wees wat God se genade aanneem, want dan sal daar meer wees wat vir Hom dankie sê.  So eer ons Hom dan.

Dit is daarom dat ek nooit moedeloos word nie.  My uiterlike lewe mag afgebreek word en tot niet gaan, maar ek het 'n ander lewe binne-in my wat God my gegee het, en Hy maak hierdie lewe elke dag nuut.  Die moeilikhede wat ek nou het, is nie so erg nie en hulle gaan verby.  Maar hulle berei my voor vir die ewige seen wat God my sal gee, en dit is wonderliker as enigiets waarmee ek dit nou kan probeer vergelyk.  Daarom konsentreer ek nie op die omstandighede wat ek nou om my sien nie, want hulle gaan verby.  My aandag is gevestig op die dinge wat vir altyd sal bly, al kan ons hulle nou nog nie sien nie.

Geloof praat.  Wat sê joune?

2 Korinthiers 4
Die Lewende Bybel, 1982

Thursday, 16 June 2016

Radikaal

Radikaal
217 woorde

Jesus was 'n radikalis.  Hier is 'n paar van sy leerstellings en uitsprake wat dit bevestig:

Die wet het voorgeskryf jy mag nie op die Sabbatdag werk nie.  Hy het.  Hy het geleer Hy en God werk nog steeds...

Die wet het voorgeskryf jy moet jou hande was voor jy eet.  Hy het nie.  Hy het geleer dis nie wat in die liggaam ingaan wat dit onrein maak nie, maar wat by die mond uitkom.

Die wet het voorgeskryf jy moet jou vyande haat.  Hy het nie.  Hy het geleer jy moet aan jou vyande liefde betoon.

Die wet het voorgeskryf 'oog vir oog en tand vir tand'.  Hy het nie.  Hy het geleer jy moet die ander wang draai.

Hy het geleer dis salig (makarios) om vervolg te word omdat jy die regte dinge doen. Inderdaad 'n radikale leerstelling...

Hy het mense genees, maar vertel Hy het 'n swaard gebring... 

Hy het geleer dat elkeen wat  sy broer 'n dwaas noen, moet daarvoor verantwoording doen in die helse vuur. 

Wanneer jy met wellus na 'n vrou gekyk het, het jy reeds owerspel gepleeg.  

Gee jou bokleed ook weg as iemand jou onderkleed wil neem.

Wees volmaak soos God volmaak is...  Inderdaad radikaal...

Vergewe (maak asof dit nooit gebeur het nie en tree op teenoor hom asof dit nooit gebeur het nie) diegene wat teen jou oortree.

Maak skatte bymekaar - in die hemel.

Moenie jou kwel oor wat jy sal aantrek nie.

Leen aan enigiemand wat by jou wil leen.

Doen aan alle mense wat jy verwag hulle aan jou moet doen.

As jy Jesus se woorde doen sal jy enige aanslag kan afweer.

Die wette van Moses was 2000 jaar in plek toe Hy hier was.  Hy het dit heeltemaal anders toegepas.

Inderdaad radikale uitsprake en radikale opdragte.

Hoe raak dit jou lewesuitkyk?  

(Lees bietjie meer hieroor in Matteus 5 tot 7.)





Thursday, 2 June 2016

Gemeente

Gemeente
862 woorde

Toe die eerste gemeente (ekklesia) in Jerusalem begin het, het dit nie lank geneem nie of die mense is uit die tempel verban en hulle het toe in huise bymekaar gekom (Handelinge 2:46; Handelinge 5:42; 1 Korinthiers 16:19; 2 Timoteus 4:19).  

Van toe af was die byeenkomste van die ekklesia in mense se wonings.  

Baie later, in omtrent die sestiende eeu, het die ekklesia na amptelike geboue toe verskuif. Van toe af het mense begin om kerk toe te gaan.  Van toe af sou die huis kerk toe gegaan het.  En dit het 'n leemte gelaat wat vandag nog voortduur.

Baie het dit verloor dat hulle eintlik self die kerk is wat uit lewende stene bestaan het (Efesiers 2:19-22):  "So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees."

Duidelik is die plek van die byeenkoms nie so belangrik as die ekklesia self nie.  Nietemin het die plek van byeenkoms ook 'n sterk invloed op die aard van die byeenkomste aldaar. 

Die hoofrede vir die byeenkoms van die ekklesia handel oor die verhouding met God en met mekaar.  Elke keer wanneer die ekklesia saamkom, daag die HERE op - soos dit onder andere blyk uit Handelinge 13:2  toe Hy die Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingreis gestuur het en volgens Handelinge 15:28 toe Hy die korrekte beslissing oor die besnydenis oor onder die heidene uitgewys het.

Die interne fokus van die byeenkomste van die ekklesia is op agape.  Letterlik.  Die fokus op letterlike hulpverlening op konkrete wyse.  Die eksterne fokus van die byeenkomste van die ekklesia is op die uitbreiding van die koninkryk van God.  Letterlik.  

Indien iemand sy werk verloor, deel die ander lede van die ekklesia hulle bronne sodat die lid kan voortgaan om met waardigheid te lewe.  Almal beskou al die kinders in die ekklesia as letterlik hulle eie kinders en behandel hulle dan ook so.  So kom die lede van die ekklesia nog nader aan mekaar. Hulle betoon hulle liefde aan God deur konkrete liefdesdade aan mekaar te demonstreer.  Hulle lewe hulle lewens vir mekaar. 

So word die ekklesia die huis byeengebring en die huis word die versamelplek van die ekklesia.   Wat jy in jou eie huis doen, en jou verhoudings met jou man en vrou en kinders, is dan deel van wie die ekklesia is en wat die lede daarvan doen.  En mense tree op asof jou gesinslede werklik ook lede van hulle eie gesinne is.  En in werklikheid is dit wat werklik die geval is... want die ekklesia is die huishouding van God op hierdie aarde.

Dit help nie veel nie as jy net vir ander mense van die ekklesia vertel jy sal hulle vir altyd liefhe nie.  Die liefde word op konkrete wyse gedemonstreer - deur te voorsien aan mekaar se behoeftes.  In finale analise kos dit jou jou slaap, jou reputasie, jou lewe en jou goed: om seker te maak jyself en almal in die ekklesia bevorder eerste die koninkryk van God.   In die ekklesia maak jy seker iemand probeer nie die aandag op homself trek nie.  Indien dit wel gebeur, word Jesus kleiner.  En dis 'n fout.  Hy moet groter word en verhoog word.  En jy moet kleiner word.  

Daarom is die 'ware huis' een waarin die huislike lewe in die lewe van die ekklesia ingeweef en ingeleef word, en nie een waarin die 'kerklike lewe' in die huis ingebring word nie. 

Immers - dit is nutteloos om net wat in 'n groot gebou gebeur oor te dra na 'n klein gebou toe - maar die kliphart van die mense wat daarby betrokke is, word nie verander na 'n vleishart nie.  Dit kan net gebeur in die close encounter met God en geliefdes in die ekklesia.

In die wyse waarop die ekklesia saamgestel is en funksioneer, gebeur dit dat jy honderde moeders en susters en broers en grondgebied en besittings verkry (en vervolging!) wat almal deel het aan die toekomstige lewe (Markus 10:30).  Slegs op hierdie wyse kan die verhoudinge tussen die lewende stene van die ekklesia  verander van die touch-and-go waaraan ons gewoond geraak het in die kerk, na verhoudings wat agape tot God en naaste met praktiese optrede demonstreer aan die verloregaande aardlinge.  

Sulke verhoudinge is persoonlik, intiem en langdurig (eintlik ewigdurend).  Dis wat in die 'kerklike lewe' gedemonstreer moet word.  Dis praktiese en konkrete liefdesuitlewing - die ander een se belange is regtig belangriker as jou eie (Filippense 2:4).  Dis nie net 'n mooi gedagte of 'n mooi frase nie.

'Kerk' handel nie oor 'n  'goeie diens, 'n goeie preek, aangrypende sang en 'n volgepakte ouditorium'  nie.  Dit behoort te handel soos die ekklesia: oor mense wat in liefde na mekaar omsien - soos mense dit in 'n huishouding doen - en op daardie manier demonstreer hulle hulle liefde aan God.

Dis iets van wat in die gemeente behoort te gebeur.






Thursday, 26 May 2016

Preokkupasie

Preokkupasie
1096 woorde


Preokkupasie met geldsake en rykdom is problematies.  Ons behoort gepreokkupeerd met God te wees.

J. Hampton Keathly 111 maak die stelling dat een van Satan se effektiewe delusies is die gedagte dat ons geluk gekoppel is aan die dinge wat ons besit.  Met hierdie misleiding het hy mense gekry om 'n goue kalf te maak - materialisme. 

En baie van ons mense val voor sy voete neer en koop en verkoop en maak wins en kry meer besittings - en rykdom - en dink dit sal geluk bewerk.

Teenoor hierdie misleiding staan die volgeling van Christus met toegang tot al die bronne wat in die hemele beskikbaar is.  Dis rykdom.

Dit maak Christene egter nie immuun teen die misleiding van Satan nie.  Rykdom hou immers verband met die bronne waartoe jy toegang het en nie met die hoeveelheid bronne wat jy besit nie.  

En geluk is iets wat in die OT al afgewys is - omdat dit aan nog 'n afgodjie se invloed verbind is (die sogenaamde koningin van die hemel).  Geluk word in die NT gekoppel aan makarios (wel,gelukkig en salig) - en dit sluit onder andere in dat jy waardig gevind is om vir die Naam van Jesus Christus te ly.  Dit het niks met 'n klomp opgehoopte aardse besittings te make nie.

Nietemin is die wereld waarin ons lewe deurweef met die preokkupasie met geldgoeters. Op TV, radio, koerante, uitstalvensters, grootpadadvertensieborde.  Die verleiding om agter materialisme aan te loop is oral en dring ons lewens wetende en onwetende binne.  

Die Bybel roep ons egter op om 'n ander rigting aan ons preokkupasie te gee.


Volgelinge van Christus is net sulke vreemdelinge op hierdie aarde was wat Hy was.  En dit behoort te wys - of ons is nie vreemdelinge nie (1 Petrus 2:11)  "Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel... en verder (1 Petrus 1:17-18):  "En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie..."  Immers, die erfenis wat vir ons bestem is, is onbesmet, en onverganklik en word in die hemele vir ons bewaar (1 Petrus 1:4) - en hierdie erfenis het nie juis met geld en besittings te make nie...

Dit lyk my die rede waarom Christene dikwels gepreokkupeerd is met geldsake en welfaart, is omdat hulle nie hierdie advies (en opdrag!) in die voorgrond van hulle denke hou nie:  "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is" (1 Petrus 5:8-9).  

Diegene wat nugter en waaksaam is en die teenstander teenstaan met standvastige geloof, sal nie mislei kan word met die preokkupasie met besittings nie.  Diesulkes kan maklik hulle preokkupasie verskuif na die wonderbaarlike lig (1 Petrus 2:9):  "Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig..."

Jesus het in baie van die gelykenisse wat Hy vertel het, geldsake en besittings as voorbeelde gebruik.  Sestien van Jesus se agt-en-dertig gelykenisse het oor geldsake gehandel.  In een (Lukas 16:9-12) het Hy een van die betekenisse van geldsake en besittings so uiteengesit:  "En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang. 
Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?"

Mammon (geldsake en welfaart) is iets wat mens kan gebruik om hier te oorleef tot ons hierdie wereld verlaat - ons bestemming is die ewige tente.  Geldsake is nie 'n groot saak nie.  Jesus noem diegene wat dit goed bestuur as getrou in die minste.  Die fokus is op die  ware goed.  

Een van die merktekens van ware godsdiens is dus mense se houding teenoor geld en die daarmee gepaardgaande rykdom (wealth).


Die preokkupase met geldsake se misleiding word nog verder gevoer:  geld en welfaart bring geluk.  Wat mense egter werklik nodig het, kan nie met geld gekoop word nie.  Selfs onder die vaandel van die OT het God dit so gestel (Jesaja 55:1-3):  "O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid."

Een van die kenmerke van die gelowige is sy preokkupasie met hemelse skatte, nie met aardse skatte nie:  "Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees" (Matteus 6:19-21).

Geldsake en rykdom is belangrik omdat jou preokkupasie daarmee (of nie) jou verhouding met God uitstraal, jou doelwitte vir hierdie aardse lewe belig, en jou karakter openbaar.

Die Bybel leer duidelik dat ons makarios (nie geluk wat glo van 'n geluksgodin af kom nie) gekoppel is aan dinge soos die saligsprekinge wat Jesus tydens die bekende bergrede uiteengesit het (Matteus 5-7).  

Preokkupasie met geldsake en rykdom is delusies van die Satan.  


Ons behoort gepreokkupeerd te wees met God.  

Ons is immers na sy beeld en gelykenis geskape en daarom behoort ons lewenswandel hier en nou dit in alle opsigte uit te beeld.


Lees gerus meer hieroor:  




Thursday, 19 May 2016

Vooraf(eind)bestemming

Jou Vooraf(eind)bestemming
530 woorde


Jou vooraf(eind)bestemming is om net soos Jesus te wees.  

So - Jesus het dit so aan Nikodemus verduidelik (Johannes 3:3):  "... as iemand nie weer gebore word nie, kan jy die koninkryk van God nie sien nie."

anothem = van bo af; opnuut; weer; van die heel eerste begin af
genao = voortplang [spesifiek van die vader se kant af]; wedergebore; verwerk; voortbring; ontvang; swanger word; delivered  

Wanneer jy dan so opnuut van Bo af verwek is, [dan] word God jou Vader  "... en julle sal vir My seunes (huios) en dogters (thugater) wees, spreek die Here, die Almagtige."  Dan - wanneer jy 'n seun of dogter van God die Vader is - is jy Jesus Christus se broer.  Hy noem jou dan ook self so to Hy met Maria gepraat het na sy opstanding (Johannes 20:17):  "Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God."  

Kortweg?  Wanneer jy dan 'n seun of dogter van God is, en Jesus Christus se broer of suster, dan is jy inderdaad 'n nuwe skepsel (en nie meer 'n mere mortal nie?)...  Lees bietjie hier (2 Korinthiers 5:17):  "Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."

kainos = nuwe; vars
ktisis = formering; skepping; kreatuur

Een van die bekende en ingrypende veranderinge wat dan plaasvind, is dat jou gelykvormigheid aan hierdie wereld drasties begin verander "... deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is" (Romeine 12:2).  


anakainosis = vernuwing; opknapping; herstel) 
nous = intellke; gevoel; wil; betekenis; begrip; gedagte; denke; gemoed; denkgees)
dokimazo = toets; bewys; onderskei; ondersoek/eksamineer)
agathos = goed; voordelig 
euarestos = aanvaarde; welgevallige; fully agreeable; wellpleasing
teleios = volwaardige; complete in moral and mental character; completeness; volwasse [full age]; perfekte wil 
thelema = determinasie; keuse; doel; dekreet; wil; wens; inklinasie; begeerte; pleasure

Kortweg? 'n Seun of dogter van God se denke, wil en gevoel kan - en moet! -  verander om in staat te wees om op te lyn met die aanvaarde, welgevallige wil van God insake die volwaardige morele inklinasies en wense wat vir God vreugde verskaf…  Wanneer jy denke, wil en gevoel in ooreenstemming kom met die van God - nou ook jou Vader deur Jesus Christus - dan is die logiese gevolg daarvan dat jy al meer en meer soos Jesus gaan dink, voel en wil - en doen...

Dit werk so (1 Petrus 1:23):  "... julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly."

Wanneer jy God die Vader se seun of dogter is, is jy uit God se Saad gebore - en dit (sy woord - en jy dus daarmee saam) hou vir ewig.  Soos Jesus ook vir ewig hou...

Dus is jou vooraf(eind)bestemming om soos Jesus Christus te wees.  Hier.  Nou al.  En hierna.  Sonder ophou.  Ewigdurend...

Thursday, 12 May 2016

Stofwolk

Stofwolk
Woorde 527

Baie van wat Jesus geleer het, het Hy deur middel van gelykenisse gedoen.  Met die gelykenisse het Hy dinge weggesteek en dinge geopenbaar.  

Hy het onder andere bekendgemaak hoe God is:

Hy is soos 'n vrou soek na 'n penning wat sy verloor het, soek en stof opskop tot sy dit kry - en vier sy fees.  So soek God na die verlore mens tot Hy hom kry - en dan vier Hy fees.

Hy is soos 'n skaapwagter wat die een gaan soek wat van die trop afgedwaal het, en wanneer hy dit kry, vier hy fees.  So soek God na die verlore mens tot Hy hom kry - en dan vier Hy fees.

Hy is soos 'n pa wat sy verlore seun inwag. Wanneer die seun terugkeer, vier die pa fees. So wag God vir die verlore mens tot Hy trugkom - en dan vier Hy fees.

God is ook soos 'n werkgewer wat vir almal wat vir hom werk, dieselfde loon gee - of hulle nou min of baie ure gewerk het.  So gee God aan al die mens wat in sy koninkryk werk, dieselfde ewige loon.

Hy is soos 'n man wat sy vriend om middernag met 'n brood help.  So gee God wat jy nodig het - al kom jy ook om middernag eers by Hom aan.

Kortweg?  Jesus het geleer God die Vader is goed.  En Hy aan om goed te wees.  Hy betoon onbegrensde liefde aan mense.

Met die gelykenisse het Jesus ook bekendgemaak wat God van jou verwag.

Hy verwag jy moet aan ander doen soos Hy aan jou gedoen het - betoon warmhartigheid soos die barmhartige Samaritaan.

Hy verwag jy sal in sy koninkryk gaan werk - al het jy eers Nee geantwoord toe Hy die opdrag gegee het.

Hy verwag jy sal diegene wat by jou in die skuld is, vrystel, omdat Hy jou van jou skuld(las van sonde) vrygespreek het.

Hy verwag dat jy jou jou lewe sal bou op die woorde van Christus - wetende dat jou lewe dan die storms sal kan weerstaan.

Hy weet ons gaan almal aan die slaap wees wanneer Jesus weer kom - maar Hy verwag dat jy ekstra olie by jou sal dra...

So verwag Hy ook dat jy sal aanhou om die goeie saad van die woord te saai - al val dit ook op harde grond, tussen klippe, tussen struike of in die goeie grond...

Kortweg?  Hy verwag van jou om bonatuurlik anders te lewe as wat die wereldlinge lewe.

Met die gelykenisse het Jesus ook bekendgemaak hoe die koninkryk herken kan word wat Hy vir jou voorberei het.  Dit is soos

'n skat wat onder die grond weggesteek is waarop jy toevallig afkom...
'n kosbare juweel wat soveel werd is dat jy alles wat jy besit daarvoor sal gee...
'n plant se saad wat aanhou groei en groot word en aanhou vrugte dra...
suurdeeg wat die hele aarde deurtrek en dit bruikbaar maak...
'n mosterdsaadjie wat 'n groot boom word waaronder baie skuiling kan vind...

Kortweg?

God skop 'n stofwolk op om jou te kry.  En wanneer Jy jou vind, vier Hy fees.