Stofwolk
Woorde 527
Baie van wat Jesus geleer het, het Hy deur middel van gelykenisse gedoen. Met die gelykenisse het Hy dinge weggesteek en dinge geopenbaar.
Hy het onder andere bekendgemaak hoe God is:
Hy is soos 'n vrou soek na 'n penning wat sy verloor het, soek en stof opskop tot sy dit kry - en vier sy fees. So soek God na die verlore mens tot Hy hom kry - en dan vier Hy fees.
Hy is soos 'n skaapwagter wat die een gaan soek wat van die trop afgedwaal het, en wanneer hy dit kry, vier hy fees. So soek God na die verlore mens tot Hy hom kry - en dan vier Hy fees.
Hy is soos 'n pa wat sy verlore seun inwag. Wanneer die seun terugkeer, vier die pa fees. So wag God vir die verlore mens tot Hy trugkom - en dan vier Hy fees.
God is ook soos 'n werkgewer wat vir almal wat vir hom werk, dieselfde loon gee - of hulle nou min of baie ure gewerk het. So gee God aan al die mens wat in sy koninkryk werk, dieselfde ewige loon.
Hy is soos 'n man wat sy vriend om middernag met 'n brood help. So gee God wat jy nodig het - al kom jy ook om middernag eers by Hom aan.
Kortweg? Jesus het geleer God die Vader is goed. En Hy aan om goed te wees. Hy betoon onbegrensde liefde aan mense.
Met die gelykenisse het Jesus ook bekendgemaak wat God van jou verwag.
Hy verwag jy moet aan ander doen soos Hy aan jou gedoen het - betoon warmhartigheid soos die barmhartige Samaritaan.
Hy verwag jy sal in sy koninkryk gaan werk - al het jy eers Nee geantwoord toe Hy die opdrag gegee het.
Hy verwag jy sal diegene wat by jou in die skuld is, vrystel, omdat Hy jou van jou skuld(las van sonde) vrygespreek het.
Hy verwag dat jy jou jou lewe sal bou op die woorde van Christus - wetende dat jou lewe dan die storms sal kan weerstaan.
Hy weet ons gaan almal aan die slaap wees wanneer Jesus weer kom - maar Hy verwag dat jy ekstra olie by jou sal dra...
So verwag Hy ook dat jy sal aanhou om die goeie saad van die woord te saai - al val dit ook op harde grond, tussen klippe, tussen struike of in die goeie grond...
Kortweg? Hy verwag van jou om bonatuurlik anders te lewe as wat die wereldlinge lewe.
Met die gelykenisse het Jesus ook bekendgemaak hoe die koninkryk herken kan word wat Hy vir jou voorberei het. Dit is soos
'n skat wat onder die grond weggesteek is waarop jy toevallig afkom...
'n kosbare juweel wat soveel werd is dat jy alles wat jy besit daarvoor sal gee...
'n plant se saad wat aanhou groei en groot word en aanhou vrugte dra...
suurdeeg wat die hele aarde deurtrek en dit bruikbaar maak...
'n mosterdsaadjie wat 'n groot boom word waaronder baie skuiling kan vind...
Kortweg?
God skop 'n stofwolk op om jou te kry. En wanneer Jy jou vind, vier Hy fees.
No comments:
Post a Comment