Thursday, 2 June 2016

Gemeente

Gemeente
862 woorde

Toe die eerste gemeente (ekklesia) in Jerusalem begin het, het dit nie lank geneem nie of die mense is uit die tempel verban en hulle het toe in huise bymekaar gekom (Handelinge 2:46; Handelinge 5:42; 1 Korinthiers 16:19; 2 Timoteus 4:19).  

Van toe af was die byeenkomste van die ekklesia in mense se wonings.  

Baie later, in omtrent die sestiende eeu, het die ekklesia na amptelike geboue toe verskuif. Van toe af het mense begin om kerk toe te gaan.  Van toe af sou die huis kerk toe gegaan het.  En dit het 'n leemte gelaat wat vandag nog voortduur.

Baie het dit verloor dat hulle eintlik self die kerk is wat uit lewende stene bestaan het (Efesiers 2:19-22):  "So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees."

Duidelik is die plek van die byeenkoms nie so belangrik as die ekklesia self nie.  Nietemin het die plek van byeenkoms ook 'n sterk invloed op die aard van die byeenkomste aldaar. 

Die hoofrede vir die byeenkoms van die ekklesia handel oor die verhouding met God en met mekaar.  Elke keer wanneer die ekklesia saamkom, daag die HERE op - soos dit onder andere blyk uit Handelinge 13:2  toe Hy die Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingreis gestuur het en volgens Handelinge 15:28 toe Hy die korrekte beslissing oor die besnydenis oor onder die heidene uitgewys het.

Die interne fokus van die byeenkomste van die ekklesia is op agape.  Letterlik.  Die fokus op letterlike hulpverlening op konkrete wyse.  Die eksterne fokus van die byeenkomste van die ekklesia is op die uitbreiding van die koninkryk van God.  Letterlik.  

Indien iemand sy werk verloor, deel die ander lede van die ekklesia hulle bronne sodat die lid kan voortgaan om met waardigheid te lewe.  Almal beskou al die kinders in die ekklesia as letterlik hulle eie kinders en behandel hulle dan ook so.  So kom die lede van die ekklesia nog nader aan mekaar. Hulle betoon hulle liefde aan God deur konkrete liefdesdade aan mekaar te demonstreer.  Hulle lewe hulle lewens vir mekaar. 

So word die ekklesia die huis byeengebring en die huis word die versamelplek van die ekklesia.   Wat jy in jou eie huis doen, en jou verhoudings met jou man en vrou en kinders, is dan deel van wie die ekklesia is en wat die lede daarvan doen.  En mense tree op asof jou gesinslede werklik ook lede van hulle eie gesinne is.  En in werklikheid is dit wat werklik die geval is... want die ekklesia is die huishouding van God op hierdie aarde.

Dit help nie veel nie as jy net vir ander mense van die ekklesia vertel jy sal hulle vir altyd liefhe nie.  Die liefde word op konkrete wyse gedemonstreer - deur te voorsien aan mekaar se behoeftes.  In finale analise kos dit jou jou slaap, jou reputasie, jou lewe en jou goed: om seker te maak jyself en almal in die ekklesia bevorder eerste die koninkryk van God.   In die ekklesia maak jy seker iemand probeer nie die aandag op homself trek nie.  Indien dit wel gebeur, word Jesus kleiner.  En dis 'n fout.  Hy moet groter word en verhoog word.  En jy moet kleiner word.  

Daarom is die 'ware huis' een waarin die huislike lewe in die lewe van die ekklesia ingeweef en ingeleef word, en nie een waarin die 'kerklike lewe' in die huis ingebring word nie. 

Immers - dit is nutteloos om net wat in 'n groot gebou gebeur oor te dra na 'n klein gebou toe - maar die kliphart van die mense wat daarby betrokke is, word nie verander na 'n vleishart nie.  Dit kan net gebeur in die close encounter met God en geliefdes in die ekklesia.

In die wyse waarop die ekklesia saamgestel is en funksioneer, gebeur dit dat jy honderde moeders en susters en broers en grondgebied en besittings verkry (en vervolging!) wat almal deel het aan die toekomstige lewe (Markus 10:30).  Slegs op hierdie wyse kan die verhoudinge tussen die lewende stene van die ekklesia  verander van die touch-and-go waaraan ons gewoond geraak het in die kerk, na verhoudings wat agape tot God en naaste met praktiese optrede demonstreer aan die verloregaande aardlinge.  

Sulke verhoudinge is persoonlik, intiem en langdurig (eintlik ewigdurend).  Dis wat in die 'kerklike lewe' gedemonstreer moet word.  Dis praktiese en konkrete liefdesuitlewing - die ander een se belange is regtig belangriker as jou eie (Filippense 2:4).  Dis nie net 'n mooi gedagte of 'n mooi frase nie.

'Kerk' handel nie oor 'n  'goeie diens, 'n goeie preek, aangrypende sang en 'n volgepakte ouditorium'  nie.  Dit behoort te handel soos die ekklesia: oor mense wat in liefde na mekaar omsien - soos mense dit in 'n huishouding doen - en op daardie manier demonstreer hulle hulle liefde aan God.

Dis iets van wat in die gemeente behoort te gebeur.






No comments:

Post a Comment