Ketters
665 woorde
"Daarom, hulle wat waarlik Jesus Christus se dissipels is, ontvang genade van Hom, en doen in sy Naam wonderdade tot voordeel van die res van die mense, soos wat elkeen die gawe van Hom ontvang het. Want sommige dryf waarlik en inderdaad duiwels uit, sodat dit dikwels gebeur dat hulle wat van die bose geeste gereinig is, glo en in die gemeente opgeneem word. Ander weer het voorkennis van dinge wat kom, en sien visioene en uiter profetiese woorde; andere genees die siekes deur die oplegging van hande en maak hulle gesond; meer nog, soos ons reeds gese het, selfs dooies is opgewek en het onder ons vir baie jare gebly. En wat moet ek meer se? Dit is nie moontlik om 'n getal te noem van die gawes wat die gelowiges oor die hele wereld van God ontvang het nie; elke dag, in die Naam van Christus, wat gekruisig is onder Pontius Pilatus, wend hulle die gawes aan tot voordeel van die nasies, maar hulle bedrieg niemand nie en maak uit niemand wins nie, want net soos hulle die gawes verniet van God ontvang het, bedien hulle ook die ander mense verniet. Ook doen hulle niks deur die aanroep van engele nie, ook nie deur towerspreuke nie, ook nie op enige ander bose en snaakse wyse nie, maar wel deur gebede op 'n rein en skoon en openhartige wyse te rig tot die Here wat alles gemaak het. Deur die Naam van onse Here Jesus Christus aan te roep, doen die gelowiges wonderdade tot voordeel van die mense, maar hulle lei hulle nie tot dwaling nie. Die Naam van onse Here Jesus Christus verrig selfs nou nog weldade en genees waarlik uiters doeltreffend almal wat oral in Hom glo..."
"Want hulle ( = die ketters, Simon en Carpocratus) kan nie visie aan blindes gee nie, ook nie gehoor aan dowes nie, ook kan hulle nie al die demone uitdryf nie, behalwe natuurlik die demone wat deur hulle self ingestuur word, as hulle dit ooit kan doen; ook kan hulle nie die swakkes of lammes of paraplee genees nie, ook nie hulle wat in enige ander deel van die liggaam geteister is nie, soos so dikwels in verband met liggaamlike swakheid gedoen is; ook kan hulle nie goeie gesondheid skenk aan diegene wat deur eksterne omstandighede geteister is nie. En hulle ( = Simon en Carprocrates) is so ver daarvan om dooies op te werk, soos wat die Here opgewek het, en die apostels deur gebed gedoen het, en baie dikwels in die broederkring op grond van een of ander noodsaak gebeur, terwyl die hele gemeente op daardie plek met vas en baie gebed en smekinge daarvoor opstuur. Die gees van die gestorwe man het teruggekeer en hy is teruggegee in antwoord op die gebede van die heiliges. Hierdie ketters glo inderdaad nie eers dat dit kan gebeur nie..."
Baie gelowiges van ons dag is oortuig dat die genesing van siekes en die opwekking van dooies saam met die apostoliese tydperk gestop het - en dat dit dus nie meer voorkom nie. Hulle is oortuig dit was net bedoel om die 'kerk te vestig'. Maar hier in die tweede eeu na Christus skryf Irenaeus dat dit nog algemeen voorgekom het. En hy vermeld duidelik dat dit die 'gewone gelowiges' is wat dit bewerk het. Dis geen wonder nie dat Jesus gewonder het of Hy nog geloof op die aarde sal vind wanneer Hy weer kom nie... (Lukas 18:8).
Irenaeus het gelewe in Klein Asie, in die tweede eeu na Christus.
Bogenoemde is twee woordelikse aanhalings wat kom uit Irenaeus se werk genaamd Teen Ketterye. Die vertaling daarvan wat hierbo weergegee is, kom uit die werk van Prof Dr HF Stander, dosent in Grieks aan die Universiteit van Pretoria en tans Adjunk Dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Die boek waarin hy dit gepubliseer het se titel is Die Besondere Gawes van die Heilige Gees in die eerste vier eeue na Christus, 1986.
No comments:
Post a Comment