1096 woorde
Preokkupasie met geldsake en rykdom is problematies. Ons behoort gepreokkupeerd met God te wees.
J. Hampton Keathly 111 maak die stelling dat een van Satan se effektiewe delusies is die gedagte dat ons geluk gekoppel is aan die dinge wat ons besit. Met hierdie misleiding het hy mense gekry om 'n goue kalf te maak - materialisme.
En baie van ons mense val voor sy voete neer en koop en verkoop en maak wins en kry meer besittings - en rykdom - en dink dit sal geluk bewerk.
Teenoor hierdie misleiding staan die volgeling van Christus met toegang tot al die bronne wat in die hemele beskikbaar is. Dis rykdom.
Dit maak Christene egter nie immuun teen die misleiding van Satan nie. Rykdom hou immers verband met die bronne waartoe jy toegang het en nie met die hoeveelheid bronne wat jy besit nie.
En geluk is iets wat in die OT al afgewys is - omdat dit aan nog 'n afgodjie se invloed verbind is (die sogenaamde koningin van die hemel). Geluk word in die NT gekoppel aan makarios (wel,gelukkig en salig) - en dit sluit onder andere in dat jy waardig gevind is om vir die Naam van Jesus Christus te ly. Dit het niks met 'n klomp opgehoopte aardse besittings te make nie.
Nietemin is die wereld waarin ons lewe deurweef met die preokkupasie met geldgoeters. Op TV, radio, koerante, uitstalvensters, grootpadadvertensieborde. Die verleiding om agter materialisme aan te loop is oral en dring ons lewens wetende en onwetende binne.
Die Bybel roep ons egter op om 'n ander rigting aan ons preokkupasie te gee.
Volgelinge van Christus is net sulke vreemdelinge op hierdie aarde was wat Hy was. En dit behoort te wys - of ons is nie vreemdelinge nie (1 Petrus 2:11) "Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel... en verder (1 Petrus 1:17-18): "En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie..." Immers, die erfenis wat vir ons bestem is, is onbesmet, en onverganklik en word in die hemele vir ons bewaar (1 Petrus 1:4) - en hierdie erfenis het nie juis met geld en besittings te make nie...
Dit lyk my die rede waarom Christene dikwels gepreokkupeerd is met geldsake en welfaart, is omdat hulle nie hierdie advies (en opdrag!) in die voorgrond van hulle denke hou nie: "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is" (1 Petrus 5:8-9).
Diegene wat nugter en waaksaam is en die teenstander teenstaan met standvastige geloof, sal nie mislei kan word met die preokkupasie met besittings nie. Diesulkes kan maklik hulle preokkupasie verskuif na die wonderbaarlike lig (1 Petrus 2:9): "Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig..."
Jesus het in baie van die gelykenisse wat Hy vertel het, geldsake en besittings as voorbeelde gebruik. Sestien van Jesus se agt-en-dertig gelykenisse het oor geldsake gehandel. In een (Lukas 16:9-12) het Hy een van die betekenisse van geldsake en besittings so uiteengesit: "En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.
Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee?"
Mammon (geldsake en welfaart) is iets wat mens kan gebruik om hier te oorleef tot ons hierdie wereld verlaat - ons bestemming is die ewige tente. Geldsake is nie 'n groot saak nie. Jesus noem diegene wat dit goed bestuur as getrou in die minste. Die fokus is op die ware goed.
Een van die merktekens van ware godsdiens is dus mense se houding teenoor geld en die daarmee gepaardgaande rykdom (wealth).
Die preokkupase met geldsake se misleiding word nog verder gevoer: geld en welfaart bring geluk. Wat mense egter werklik nodig het, kan nie met geld gekoop word nie. Selfs onder die vaandel van die OT het God dit so gestel (Jesaja 55:1-3): "O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid."
Een van die kenmerke van die gelowige is sy preokkupasie met hemelse skatte, nie met aardse skatte nie: "Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees" (Matteus 6:19-21).
Geldsake en rykdom is belangrik omdat jou preokkupasie daarmee (of nie) jou verhouding met God uitstraal, jou doelwitte vir hierdie aardse lewe belig, en jou karakter openbaar.
Die Bybel leer duidelik dat ons makarios (nie geluk wat glo van 'n geluksgodin af kom nie) gekoppel is aan dinge soos die saligsprekinge wat Jesus tydens die bekende bergrede uiteengesit het (Matteus 5-7).
Preokkupasie met geldsake en rykdom is delusies van die Satan.
Ons behoort gepreokkupeerd te wees met God.
Ons is immers na sy beeld en gelykenis geskape en daarom behoort ons lewenswandel hier en nou dit in alle opsigte uit te beeld.
Lees gerus meer hieroor: