Twee dae gelede
932 woorde
Een-en-twintig eeue gelede het die byeenkomste van gelowiges aansienlik verskil van hoe dit nou gaan.
In die Bybel is daar twee gemeentes se byeenkomste waaruit ons kan leer oor hoe die eerste volgelinge van Jesus hulle byeenkomste ingerig het. Die manier hoe ons kerklike byeenkomste vandag inrig kom nie ooreen met wat oor die byeenkomste van die twee gemeentes in die NT geskryf staan nie.
Vandag se tyd doen ons dit gewoonlik so:
Ons kom in groot geboue bymekaar. In groot getalle. Die orkes of orrel maak gewyde musiek. Die prediker laat die aanbiddingspan die sang lei. Die predikant preek. Hy bid. Soms word daar geleentheid gemaak vir 'n paar om te getuig oor die goedheid van God vir hulle. Kollekte word opgeneem. Soms in die banke en ook by die deure (wanneer daar geld gevra word vir 'n spesiale projek). Dan gaan almal huis toe. Die res van die week is daar dalk 'n Bybelstudie of 'n biduur (of albei) Woensdagaand. En soms is daar vergaderings van die kerkraad vier keer of twaalf keer per jaar. Die Finansiele Kommissie vergader natuurlik ook op gereelde grondslag sekere weeksaande. Dieselfde geld vir die Vroue-aksie en die Jeugaksie - en baie soortgelyke aktiwiteite. Sommige gemeentes hou soms evangelisasie-uitreikaksies waarby al die lidmate veronderstel is om aan deel te neem. Gemeentefunksies (basaar) is aan die orde van die dag. Deesdae gebeur dit ook dat gemeentes op hulle kerkgebou se perseel 'n privaat (Christelike) skool begin.
Niks van die dinge wat sulke gemeentes vandag doen, word in die boek Handelinge beskryf nie.
Handelinge 2:42-47) reken die eerste gelowiges het anders gedoen.
Hier is wat die rekord aandui hulle gedoen het: Hulle het naamlik volhard in wat die apostels geleer het. Hulle het volhard in die gemeenskap, in die breking van die brood en in die gebede. Die apostels het baie wonders en tekens gedoen. Al die gelowiges was bymekaar. Hulle het alles gemeenskaplik besit. Hulle het hulle eiendomme en besittings verkoop en die opbrengs onder mekaar verdeel volgens wat elkeen nodig gehad het. Hulle het dag vir dag eendragtig bymekaargekom in die tempel. Hulle het daagliks van huis-tot-huis brood gebreek, hulle voedsel met blydskap en eenvoud van hart geniet. Hulle het God geprys.
Die resultaat van hulle lewenswyse was dit: hulle was in guns by die hele volk, en die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is (Handelinge 2:47).
Niks van wat ons by gereelde kerlike byeenkomste doen, word ook nie in 1 Korinthiers 14 (26-40) vermeld nie.
En hier het ons nogal iets wat soos voorskrifte vir die byeenkomste klink, In Handelinge - dit moet mens toegee - is daar nie opdragte dat dit is hoe die volgelinge van Jesus moet lewe nie. Dit word bloot gestel as die feite van hoe hulle hulleself gedra het en wat hulle gedoen het. Hier - in Korinthiers - is die woordkeuse van die Skrif egter duidelik meer soos instruksies. Dit word selfs 'bevele van die Here' genoem (maar ons doen dit nie tydens ons byeenkomste nie)...
Lees bietjie weer:
Elkeen het 'n psalm of 'n lering of 'n taal of 'n openbaring of 'n uitleg. Elkeen. Nie net die prediker nie. Alles het stigtelik verloop. Twee of drie anderstaliges is toegelaat om te praat - indien daar ander teenwoordig was wat daardie taal verstaan en vir almal kon vertaal. Twee of drie profete het aan die woord gekom. Al die ander wat teenwoordig was, moes hulle 'toesprake' beoordeel. Terwyl een aan die woord was, en iemand ontvang 'n openbaring, moet die spreker eers swyg en die een wat die openbaring ontvang het, voorkeur kry om te praat. Nietemin - elkeen kan een vir een 'n beurt kry om te profeteer - sodat almal kan leer en almal bemoedig kan word. Nie net een prater nie. Die vroue moet swyg in die byeenkoms. Hulle mans moet hulle vrae tuis beantwoord. In vers 37 staan daar: "As iemand meen dat hy 'n profeet of 'n geestelike mens is, moet hy erken dat wat ek aan julle skrywe, bevele van die Here is".
Die verskille is aansienlik...
Toe het almal deelgeneem. Nou is dit hoofsaaklik die prediker en die aanbiddingspan wat voorgaan. Toe was dit in huise (nadat hulle uit die tempel verban is), nou is dit in groot geboue. Hulle het geen aanbiddingspanne gehad nie. Ons byeenkomste word omtrent deur hulle oorweldig. Ons het orkeste en orrels. Hulle het dit nie gehad nie. Toe het elkeen 'n spreekbeurt gekry. Nou kry net die prediker 'n spreekbeurt. Ons het nie meer apostels wat baie wonderwerke doen nie... Ons kom weekliks bymekaar, nie daagliks nie. Ons breek ook nie daagliks saam brood nie. Hulle het nie opgeleide predikers in diens gehad soos ons nie. Ons stuur spesialiste uit om evangelisasie te gaan doen. Toe het hulle dit nie gedoen nie. Hulle het nie geldinsamelingsveldtogte geloods nie. Die mense het vrywilliglik hulle goed verkoop en die opbrengs met mekaar gedeel volgens behoefte. Ons weet lankal nie meer wat eendragtigheid is nie - ons het derduisende denominasies.
Die resultaat van die lewenswyse van vandag se volgelinge van Jesus is omtrent net Sondag sigbaar tydens die byeenkoms - omdat daar 'n byeenkoms plaasvind. Baie min word daagliks bygevoeg wat gered word.
Duisend jaar is in die oog van God soos een dag en een dag soos duisend jaar (Psalm 90:4; 2 Petrus 3:8).
Dis vir my duidelik dat die aard van die byeenkomste, die lewensstyl en die invloed van die gelowiges baie verander het en nou baie afwyk van hoe dit twee dae gelede was...
No comments:
Post a Comment