Dis hoe hy my altyd gegroet het wanneer ek gestap het om te gaan pos uithaal: My Lanie!
Dan het ons bietjie gesels. Ek ek geleer om hom nie te groet of 'n geselsie aan te knoop nie wanneer hy besig was om íemand te help.
Hy het altyd geantwoord dat dit goed gaan met hom. Nooit gekla nie. Nie eers in die diepte van die winter wanneer dit baie koud moet wees vir iemand wat op straat slaap nie. En sy klere maar skraps is. Nee. Nie kla nie. Dit gaan goed.
Nou is sy plek leeg onder die boom by die poskantoor waar hy altyd gesit het.
Parkering aangewys. Hou die parkeerarea skoon en kyk dat die karre nie gesteel word wanneer die ouer mense hulle poskantoorsake doen nie.
Ek was nou Maartmaand 50 my Lanie, antwoord hy toe ek hom vra.
Dink jy die HERE is tevrede dat jy so op die straat lewe?
George se boom. Sy stoel is die een naaste aan die kamera
Hy trek sy skouers op. Hoe kan ek nou anders, my Lanie? Die kontrak waarby ek en my broer gewerk het, het ons laat gaan. Nou kry ek maar af en toe 'n joppie hier en daar.
Die vrou by hom praat: Hy is nie my man nie. Maar hy kyk dat die ander mense my nie seermaak nie. My man het my al jare gelede gelos vir 'n jonger vrou. Maar ons is nog nie geskei nie. Mens doen dit mos nie. Maar hy kyk dat ek nie seergemaak word nie.
Sy blaas af: Meneer, jy praat van die kerk? Hierdie kerk hier reg voor ons djaag ons weg as ons daar wil ingaan! Die een langsaan laat ons inkom, maar hulle skuif op, want ons stink vir hulle. Ons het ok behoefte aan die HERE, maar ons stink. Ja, ons stink, want ons kan nie baie was nie. Nou sit ons maar hier. Maar ons ken die HERE en vir Jesus. Hy vermaan haar: Jy moenie so praat oor die kerk nie...
Saterdagnag is George vermoor. Na 34 jaar op straat. Mes in die hart. Jesus se eie mense het hulle rug op Hom gedraai. George s'n ook. Sy eie mense het Hom doodgemaak. George s'n ook.
George is dood. Die moordenaars is op vlug. God het hulle ook lief. Nes vir George.
Hoe moet dit Hom nie onstel nie... die Lewe-maker.
Wat dink jy het George gedink toe die mes hom in sy hart tref? Wat was sy laaste gedagte? Sy laaste woorde?
Die mense wat sy doodskreeu gehoor het, was te laat. Hy was reeds dood toe hulle by hom kom. En hy het (nogal) op 'n veilige plek geslaap - met security en als - het hy my verseker.
Geskape na God se beeld en gelykenis is hy die doderyk in. Jesus het self ook daar gaan draai: in die doderyk. George is nou waar sy Skepper ook al was. Jesus ken die plek waar George nou is...
Wat dink ons Skepper wanneer Hy dit moet aanskou? Die een beelddraer vermoor die ander beelddraer... En Hy het die vermoorde en die moordernaar lief...
Daar was 45 ander straatmense en poskantoorwerkers wat vir George kom groet het. 'n Goeie man. Niemand kwaad aangedoen nie. Ken almal. Almal ken hom. Hy was nog baie jonk toe hy hier op hierdie strate 'begin' het.
Sy werkmaat het vir hom 'n kruisaandenking teen die boom se stam opgerig. Ek het hom 14 jaar geken, vertel hy al vra ek nie omdat hy verstaan ek wil graag weet wat sy 'werkverhouding' met George was.
Die lykswa het hom - op pad na sy tuisdorp toe - na sy boom by die poskantoor toe gebring. Die ander straatmense het daar bymekaargebondel om hom te groet. Sy suster het 'n begrafnispolis vir hom.
Nou wag sy sonvernielde uiterlike en sy treurige gesigsuitdrukking iewers onder die grond in Postmasburg. Waar hy gemaak is. Hy wag vir die wederkoms van die Een wat hom na sy gelykenis gemaak het.
Wat kan ons Hom antwoord wanneer Hy ons vra oor George? Vir ons wat hom geken het. Het julle ag gegee op My beeld wat Ek in George gedupliseer het? Het jy ook jou rug op hom gedraai omdat hy gestink het en nie 'n man van rykdom of aansien of mag was nie? Ek het dan nie My rug op jou gedraai nie... Ek het aan George aansien gegee (Jakobus 1:9) deur hom My beeld en My gelykenis te skenk (Genesis 1:27)...
George Booysen sal nie weer honger word nie. Hy sal nie weer koud kry nie. Mense sal hom nie meer vermy omdat hy parkering aanwys en hoop iemand gee hom ietsie daarvoor waarmee hy 'n kossie kan koop nie.
Ek wil graag dink dat die moorddaad en George se sterwe sal lei tot die omkeer en kruiswaartskeer van die moordenaar.
Sodat hy ook kan lewe soos Jesus wil.
Dan kry George op 'n kragtige wyse deel aan Jesus se werk aan die kruis: Jesus se skandalige dood het immers vir alle mense lewe (in oorvloed) gebring.
Selfs ook vir my en vir my en my vrou se kinders.
Maar die dood sal nie vir George vir altyd vashou nie. Hy sal weer opstaan. So het die Mensmaker belowe. En dan sal hy lewe.
No comments:
Post a Comment