Aan die Afrikaners...
671 woorde
Die brief aan die Romeine kon net sowel die Brief aan die Afrikaners gewees het.
Die evangelie kan met reg die belangrikste boodskap in die geskiedenis van die mensdom genoem word.
Tog is daar baie mense wat die evangelie gehoor het, maar nie ten volle verstaan nie - omdat baie mense vandag dink hulle is OK wanneer hulle die sondaarsgebed gebid het en begin kerk toe gaan...
maar hulle word nie werklik dissipels nie..
Die brief aan die Romeine kon werklik net sowel die Brief aan die Afrikaners gewees het.
Die Romeine van destyds en die Afrikaners van vandag is immers in dieselfde posisie ten opsigte van die evangelie. Die Romeine het nie soos die Jode van destyds, onder die wet van Moses opgegroei nie. Die Afrikaners van vandag ook nie. Daarom is die boodskap van die boek aan die Romeine dan ook so goed van toepassing op die Afrikaners van ons dag.
Die brief aan die Romeine (3:19-23) gee 'n kragtige kort uiteensetting van die volle evangelie. Kortweg is dit wat hier geskrywe staan:
Wetsonderhouding help jou net mooi niks.
Die wet maak eintlik net bekend wat sonde nou eintlik is. Maar die boek aan die Romeine maak bekend dat geregtigheid by God nie deur die wet verkry kan word nie. Slegs volledige perfekte nakoming van die wet is vir God aanvaarbaar. En niemand kan reg genoeg lewe om homself van God se straf vir sonde te red nie.
Slegs regverdigmaking sonder die wet kan help...
... en dis natuurlik deur geloof in die plaasvervangende (ver)soenverdienste van Christus. Almal het gesondig en is onaanvaarbaar vir God. Maar Jesus het die wet onder die knie gekry op die enigste wyse wat vir God aanvaarbaar is: Hy het dit korrek interpreteer, korrek geleef en selfs die straf vir die oortreding van enige van die wette, straf op Homself geneem - in ons plek.
Geloof is die sleutel...
... om daaraan deel te kry. Dis die enigste wyse waarop jy in die regte verhouding met God kan kom. Geloof is jou hand wat jy uitsteek om die genade wat God op hierdie plaasvervangende werk van Christus vir jou gedoen het, te ontvang. En God behandel almal eenders. Hy trek nie sommige mense of volke voor nie. Die gunsbetoning is vir almal. Afrikaners. Tswanas. Zulus. Xhosas. Nie een is beter of slegter as die ander nie. En die prys wat betaal is, is dieselfde vir almal en elkeen.
... en dis gratis... en jy kan dit nie verdien nie...
"... en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is" (Romeine 3:24). Die straf is vir almal betaal. In God se hof is daar diegene wat onskuldig verklaar is. Niemand sal ooit weer enige klagte teen hulle kan inbring of laat standhou nie. Jesus het die straf gedra. Wanneer jy dit aanvaar en aanneem (glo) dat dit ook vir jou bedoel is, is jy vry van enige beskuldiging voor God. Hoewel dit gratis is, is die vryspraak ten duurste gekoop deur Jesus Christus. Jou verlossing is die duurste item in die heelal. Dit het die God-mens sy lewe gekos.
Die versoening is afgehandel...
... geregtigheid het geskied: die prys vir die sonde is betaal en die Regter is tevrede. Nie omdat ons jammer is oor ons sonde nie. Om net een rede: die straf is voltrek. Jesus het 'n klasaksiehofsaak vir ons gewen.
Hoekom?
Ek gee vir jou oorweging die volgende antwoord: Ja. Natuurlik omdat Hy ons liefhet. Om geen ander rede nie. Nie sodat die Afrikaners of die Twanas hulle kultuur kan handhaaf nie. Nie sodat een groep mense (die gereddes) hulleself kan afsonder van 'n ander groep mense (die ongereddes) nie. Die Afrikaners se Afrikanerskap is 'n middel om die HERE mee te dien. Die Tswanas se Tswanaskep is 'n middel om die HERE mee te dien. Niks meer nie. Niks minder nie.
Die boodskap van die Brief aan die Romeine is vir almal. Ook net so vir die Afrikaners.
Geloof praat
696 woorde
God was vir my goed en het my die opdrag gegee om mense te vertel van hierdie nuwe manier waarop Hy nou met hulle werk. Daarom word ek nie moedeloos nie. Enigiets waaroor 'n mens jou sou skaam as ander dit weet, het ek laat staan. Waar ek vir mense die woord van God bring, verdraai ek dit nie en ek probeer hulle ook nie om die bos lei nie. Ek praat die waarheid sonder om doekies om te draai en dan laat ek dit aan elkeen oor om die saak in sy eie gewete uit te maak waar hy en God alleen bymekaar is.
As daar dan nog mense is wat ons boodskap nie kan verstaan nie, is dit die wat verlore gaan. Hulle go nie, want Satan, wat die god van hierdie wêreld is, het hulle verstand blind gemaak. Daarom kan die lig wat daar uit Christus straal nie in hulle harte inskyn nie. Hierdie lig kom uit die boodskap oor Christus - dat Hy presies net soos God is. As ek preek, probeer ek nie om mense se aandag op myself te vestig nie, maar ek vestig hulle aandag op Christus Jesus. Ek vertel dat Hy die Here is; en wat myself betref, sê ek net dat ek julle nou dien ter wille van hierdie Jesus. Dit is God wat heel aan die begin gesê het: "Laat daar lig wees en plaas van die donkerte." Dit is dieselfde God wat ook sy lig in ons harte laat val het, en nou kan ons iets sien van die heerlikheid van God as ons na Jesus Christus kyk.
Die wonderlike krag wat deur my werk, is God se krag en nie myne nie. Ek is soos 'n eenvoudige erdepot waarin daar iets baie kosbaars gesit is. Van alle kante af sak moeilikheid op my toe, maar hulle druk my nie plat nie. Ek verstaan nie altyd waarom dinge gebeur nie, maar dit maak my nie moedeloos nie. Daar is mense wat my vervolg, maar ek staan nie alleen nie - die Here is by my. Partymaal is ek platgeslaan, maar ek gaan weer aan. Elke dag ondervind ek in my lewe iets van die lyding en dood van Jesus sodat dit ook in my lelwe gesien kan word dat Hy werklik lewe. 'n Mens kan sê dat ek my hele lewe lank aan doodsgevaar blootgestel is ter wille van Jesus, maar juis dan word die lewe at jesus my gee, gesien in my aardse bestaan wat op pad is na die dood toe. Dit beteken dat ek Christus se dood ondervind, maar aan die ander kant ondervind julle dat Hy in julle lewe.
In die Skrif staan daar: "Ek het gepraat omdat ek geglo het." Dit is die soort geloof wat ek ook het. Ek vertrou op God en daarom is ek nie bang om van Hom te praat nie. Ek weet verseker dat God, wat vir die Here Jesus uit die dood lewendig gemaak het, ook vir my sal lewendig maak saam met Jesus. En as ek weer lewendig gemaak is, sal God my saam met julle voor sy troon laat staan. Alles wat ek doen, is ter will van julle. Ek wil hê dat daar nog baie meer mense moet wees wat God se genade aanneem, want dan sal daar meer wees wat vir Hom dankie sê. So eer ons Hom dan.
Dit is daarom dat ek nooit moedeloos word nie. My uiterlike lewe mag afgebreek word en tot niet gaan, maar ek het 'n ander lewe binne-in my wat God my gegee het, en Hy maak hierdie lewe elke dag nuut. Die moeilikhede wat ek nou het, is nie so erg nie en hulle gaan verby. Maar hulle berei my voor vir die ewige seen wat God my sal gee, en dit is wonderliker as enigiets waarmee ek dit nou kan probeer vergelyk. Daarom konsentreer ek nie op die omstandighede wat ek nou om my sien nie, want hulle gaan verby. My aandag is gevestig op die dinge wat vir altyd sal bly, al kan ons hulle nou nog nie sien nie.
Geloof praat. Wat sê joune?
2 Korinthiers 4
Die Lewende Bybel, 1982
Radikaal
217 woorde
Jesus was 'n radikalis. Hier is 'n paar van sy leerstellings en uitsprake wat dit bevestig:
Die wet het voorgeskryf jy mag nie op die Sabbatdag werk nie. Hy het. Hy het geleer Hy en God werk nog steeds...
Die wet het voorgeskryf jy moet jou hande was voor jy eet. Hy het nie. Hy het geleer dis nie wat in die liggaam ingaan wat dit onrein maak nie, maar wat by die mond uitkom.
Die wet het voorgeskryf jy moet jou vyande haat. Hy het nie. Hy het geleer jy moet aan jou vyande liefde betoon.
Die wet het voorgeskryf 'oog vir oog en tand vir tand'. Hy het nie. Hy het geleer jy moet die ander wang draai.
Hy het geleer dis salig (makarios) om vervolg te word omdat jy die regte dinge doen. Inderdaad 'n radikale leerstelling...
Hy het mense genees, maar vertel Hy het 'n swaard gebring...
Hy het geleer dat elkeen wat sy broer 'n dwaas noen, moet daarvoor verantwoording doen in die helse vuur.
Wanneer jy met wellus na 'n vrou gekyk het, het jy reeds owerspel gepleeg.
Gee jou bokleed ook weg as iemand jou onderkleed wil neem.
Wees volmaak soos God volmaak is... Inderdaad radikaal...
Vergewe (maak asof dit nooit gebeur het nie en tree op teenoor hom asof dit nooit gebeur het nie) diegene wat teen jou oortree.
Maak skatte bymekaar - in die hemel.
Moenie jou kwel oor wat jy sal aantrek nie.
Leen aan enigiemand wat by jou wil leen.
Doen aan alle mense wat jy verwag hulle aan jou moet doen.
As jy Jesus se woorde doen sal jy enige aanslag kan afweer.
Die wette van Moses was 2000 jaar in plek toe Hy hier was. Hy het dit heeltemaal anders toegepas.
Inderdaad radikale uitsprake en radikale opdragte.
Hoe raak dit jou lewesuitkyk?
(Lees bietjie meer hieroor in Matteus 5 tot 7.)
Gemeente
862 woorde
Toe die eerste gemeente (ekklesia) in Jerusalem begin het, het dit nie lank geneem nie of die mense is uit die tempel verban en hulle het toe in huise bymekaar gekom (Handelinge 2:46; Handelinge 5:42; 1 Korinthiers 16:19; 2 Timoteus 4:19).
Van toe af was die byeenkomste van die ekklesia in mense se wonings.
Baie later, in omtrent die sestiende eeu, het die ekklesia na amptelike geboue toe verskuif. Van toe af het mense begin om kerk toe te gaan. Van toe af sou die huis kerk toe gegaan het. En dit het 'n leemte gelaat wat vandag nog voortduur.
Baie het dit verloor dat hulle eintlik self die kerk is wat uit lewende stene bestaan het (Efesiers 2:19-22): "So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees."
Duidelik is die plek van die byeenkoms nie so belangrik as die ekklesia self nie. Nietemin het die plek van byeenkoms ook 'n sterk invloed op die aard van die byeenkomste aldaar.
Die hoofrede vir die byeenkoms van die ekklesia handel oor die verhouding met God en met mekaar. Elke keer wanneer die ekklesia saamkom, daag die HERE op - soos dit onder andere blyk uit Handelinge 13:2 toe Hy die Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingreis gestuur het en volgens Handelinge 15:28 toe Hy die korrekte beslissing oor die besnydenis oor onder die heidene uitgewys het.
Die interne fokus van die byeenkomste van die ekklesia is op agape. Letterlik. Die fokus op letterlike hulpverlening op konkrete wyse. Die eksterne fokus van die byeenkomste van die ekklesia is op die uitbreiding van die koninkryk van God. Letterlik.
Indien iemand sy werk verloor, deel die ander lede van die ekklesia hulle bronne sodat die lid kan voortgaan om met waardigheid te lewe. Almal beskou al die kinders in die ekklesia as letterlik hulle eie kinders en behandel hulle dan ook so. So kom die lede van die ekklesia nog nader aan mekaar. Hulle betoon hulle liefde aan God deur konkrete liefdesdade aan mekaar te demonstreer. Hulle lewe hulle lewens vir mekaar.
So word die ekklesia die huis byeengebring en die huis word die versamelplek van die ekklesia. Wat jy in jou eie huis doen, en jou verhoudings met jou man en vrou en kinders, is dan deel van wie die ekklesia is en wat die lede daarvan doen. En mense tree op asof jou gesinslede werklik ook lede van hulle eie gesinne is. En in werklikheid is dit wat werklik die geval is... want die ekklesia is die huishouding van God op hierdie aarde.
Dit help nie veel nie as jy net vir ander mense van die ekklesia vertel jy sal hulle vir altyd liefhe nie. Die liefde word op konkrete wyse gedemonstreer - deur te voorsien aan mekaar se behoeftes. In finale analise kos dit jou jou slaap, jou reputasie, jou lewe en jou goed: om seker te maak jyself en almal in die ekklesia bevorder eerste die koninkryk van God. In die ekklesia maak jy seker iemand probeer nie die aandag op homself trek nie. Indien dit wel gebeur, word Jesus kleiner. En dis 'n fout. Hy moet groter word en verhoog word. En jy moet kleiner word.
Daarom is die 'ware huis' een waarin die huislike lewe in die lewe van die ekklesia ingeweef en ingeleef word, en nie een waarin die 'kerklike lewe' in die huis ingebring word nie.
Immers - dit is nutteloos om net wat in 'n groot gebou gebeur oor te dra na 'n klein gebou toe - maar die kliphart van die mense wat daarby betrokke is, word nie verander na 'n vleishart nie. Dit kan net gebeur in die close encounter met God en geliefdes in die ekklesia.
In die wyse waarop die ekklesia saamgestel is en funksioneer, gebeur dit dat jy honderde moeders en susters en broers en grondgebied en besittings verkry (en vervolging!) wat almal deel het aan die toekomstige lewe (Markus 10:30). Slegs op hierdie wyse kan die verhoudinge tussen die lewende stene van die ekklesia verander van die touch-and-go waaraan ons gewoond geraak het in die kerk, na verhoudings wat agape tot God en naaste met praktiese optrede demonstreer aan die verloregaande aardlinge.
Sulke verhoudinge is persoonlik, intiem en langdurig (eintlik ewigdurend). Dis wat in die 'kerklike lewe' gedemonstreer moet word. Dis praktiese en konkrete liefdesuitlewing - die ander een se belange is regtig belangriker as jou eie (Filippense 2:4). Dis nie net 'n mooi gedagte of 'n mooi frase nie.
'Kerk' handel nie oor 'n 'goeie diens, 'n goeie preek, aangrypende sang en 'n volgepakte ouditorium' nie. Dit behoort te handel soos die ekklesia: oor mense wat in liefde na mekaar omsien - soos mense dit in 'n huishouding doen - en op daardie manier demonstreer hulle hulle liefde aan God.
Dis iets van wat in die gemeente behoort te gebeur.