Thursday, 7 June 2018

Dink anders

Dink anders      1201 woorde

As jy liggaamlike genesing van God wil ontvang, moet jy anders begin dink oor genesing – en aanhou anders dink daaroor.  Jy moet jou denke vernuwe (Romeine 12:2).  Wanneer jy anders begin dink oor genesing, sal jy noodwendig ook anders optree in die verband.

Die Bybel is ook duidelik daaroor dat dit nie noodwendig die een is wat liggaamlike genesing soek, die gelowige hoef te wees nie (Jakobus 5:14-16). 

Die mense wat liggaamlike genesing ontvang hoef ook nie eers gelowiges te wees nie.  Jesus het ook mense soos die Romeinse soldaat (Matteus 8:5-13) en die Siro-Finiesiese vrou (Matteus 15:22-28), wat nie eers onder die Ou Verbond gestaan het nie, genees.  

'n Verder - alles en enigiets wat 'n mens van God kan kry, kan jy slegs bekom deur geloof in Christus Jesus, die Man van Nasaret.  Dit is onmoontlik om God te behaag – behalwe deur geloof.  Die Skrif sê immers:  “... sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag...” (Hebreërs 11:6).

Verder is dit ook so dat, indien jy nie weet wat God se wil oor liggaamlike genesing is nie, het jy nie iets het om jou geloof op te baseer nie.  Voordat jy standvastige geloof kan beoefen vir jou liggaamlike genesing, moet jy dus eers ontslae raak van enige onsekerheid aangaande God se wil daaroor.  Anders gestel: toeëiening van geloof vir jou liggaamlike genesing deur God, is gekopopel aan kennis aangaande God se geopenbaarde wil daaroor. 

Die Bybel leer naamlik duidelik en uitdruklik dat die redding van ons liggaam (dws liggaamlike genesing), net soos die genesing van ons siel (dws redding), beide God se wil is.  Jesaja 53:5 stel dit duidelik:  “…  deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.  Die word bevestig deur 1 Petrus 2:24 waar hy skryf oor Jesus se kruisiging:  “…  deur wie se wonde julle genees is.”

God doen niks buite om sy woord nie.  Al God se werk is gekoppel aan Sy getrouheid aan sy uitsprake en beloftes.  En Hy het onder andere hieroor gesê (Psalm 107:20): “Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.” 

Die sieke en/of die een wat vir genesing bid, moet eers die saad van die woord van God in sy hart en gedagtes plant, naamlik die sekere gefoofswete dat dit God se wil is om hom te genees. 'n Mens kan nie 'n Christen word nie, voordat hy nie weet dit is God se wil om jou te red nie.  Net so kan geen mens liggaamlike genesing van God ontvang nie, as hy of die een wat gesondheid aan hom bedien, nie glo dit is God se wil om hom te genees nie. 

Daar is 'n wesenlike verskil tussen wonderwerke en liggaamlike genesings.  Wanneer meeste mense aan liggamlike genesing as God se wil dink, verwar hulle dit dikwels met wonderwerke.  'n Wonderwerk is iets wat onmiddellik plaasvind.  'n Genesing is 'n proses.

Wanneer jy sê  'Ek glo God is in staat om my te genees'  voordat jy die kennis het dat dit God se wil is om jou te genees, is dit omtrent dieselfde as wanneer 'n boer sê  'Ek glo God is in staat om vir my 'n oes te gee sonder dat ek enige saad geplant en dit nagemaak het'.  Tog verstaan meeste mense – selfs ongelowiges – hulle moet eers aanvaar en glo God kan en wil jou siel red en voordat jy nie God se wil daaroor verstaan nie – want redding is deur geloof – dws deur te vertrou dat hulle God se wil oor hulle redding ken nie.  Liggaamlike genesing werk ook net so: dis soos om  'gered'  te word op 'n  'fisieke'  wyse.

Wanneer jy bid vir genesing met die geloofsvernietigende woorde  'as dit U wil is', dan plant jy nie die saad nie, jy vernietig die saad.  Dit is God se wil om jou liggaamlik te genees.  Die eerste verbondsNaam wat God gebruik het om Homself aan die Israeliete in die woestyn bekend te staal is, 'Ek is die Here jou God wat jou genees' (Eksodus 15:26).  Heelwat later, toe Jesus die melaatse genees het (Matteus 8:3) het Hy gesê Hy wil hom genees, en daarmee weer God se wil vir liggaamlike genesing bevestig.

Die gelowige gebed wat die sieke genees (Jakobus 5) volg op die plant van die saad (die woord van God oor genesing) waarop jou geloof gebou is.  Dws jy bid nie eers al weet jy nie of dit  gaan werk  nie: jy bid juis omdat jy weet dit gaan werk, want dit is God se wil.

Die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo (Romeine 1:16).  En die evangelie is vir alle skepsels en vir alle volke.  Die evangelie laat mens nie onseker nie – dis duidelik wat God se wil is.  Die woorde van die Heilige Gees in Matteus 8:17 aangaande die werk van die Messias (wat 'n bevestiging is van sy uitspraak in Jesaja 53:3): “… sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra...” is net so deel van die evangelie as die uitspraak in 1 Petrus 2:24 wat lui:  “…  wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.”

Saad is kragteloos voordat dit geplant is.  Daarom moet jy nie - wanneer jy siek is nie - sê  'Bid vir my'  nie,  Jy moet liewer sê  'Leer my God se woord ( = saad) aangaande liggaamlike gesondmaking, sodat ek daarmee kan saamwerk vir my genesing'.  Jy moet tog eers weet wat die  'voordele'  van Golgota vir jou is voordat jy daarmee kan identifiseer en in geloof aanneem en dan handel volgens daardie geloof.  Dawid het al (sowat duisend jaar vC) geweet dit is God se wil om ons te genees. Hy het immers gesê (Psalm 103:2-3): “Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees...

Wanneer jy dan bevredigend ingelig is oor God se wil, moet jou houding teenoor siekte dieselfde wees as teenoor sonde... Raak daarvan ontslae!

Bogenoemde is gebaseer op die uitsprake van die Bybel.  Dis waar of dis nie waar nie.  Daar is geen aanduiding in die Bybel dat sulke soort genesing  'opgehou'  het na Jesus weg is en of nadat die Twaalf almal oorlede is nie.  Inteendeel, daar is baie en duidelike skriftelike rekord dat dit voortgesit is tot in die vierde eeu nC.  Prof Hennie Stander se navorsing hieroor (Die buitengewone gawes van die Heilige Gees die eerste vier eeue na Christus) het die dokumentasie daarvan opgespoor en neergeskryf.  Dit staan vas.

Die vraag is: wat maak jy daarmee?


Sover ek kon vasstel is daar geen uitdruklike verbod op die gebruik van medikasie in die NT nie.  Daar is wel baie en voorbeelde van genesings deur Jesus en sy volgelinge – sonder medikasie.

Die vraag is: wat maak jy daarmee?  Waarom gebruik ons dan nie wat Jesus vir ons voorsien het nie? 


Sal dit help om anders daaroor te begin dink?  Dan sal ons dalk mettertyd anders doen.