'n Tyd gelede het daar baie apostels hulle verskyning begin maak op die kerk like akker. Dis dalk nodig om ook te kyk na die woord apostel as 'n funksiewoord, nie (net as) 'n naamwoord nie.
Ons het nie 'n keuse nie. Dis hoe ons wys ons volg Hom.
My lewe lank is ek deur die leiers van die kerkmense geleer mens het 'n roeping van God nodig om 'n prediker te word. Jy kan nie sommer net besluit om 'n predikant te word soos mens (blykbaar wel!) sommer self kan besluit op 'n boer of 'n onderwyser te word, nie. Jy moet geroep word. Deur God self. Dan gaan studeer jy hoe om dit te doen. Wanneer 'n bestaande gemeente jou dan beroep (be-roep - let op die woordjie roep wat van roeping af kom), is dit 'n bevestiging dat God jou geroep het. So is ek geleer. En dis eintlik net die predikers wat mag preek. Want hulle is geroep om dit te doen.
Daar is egter in die NT ook uitspreake wat dit bietjie anders uitbeeld.
Dit klink eerder vir my asof almal wat gelowiges is, gestuur word. Deur God. Ons het nie 'n keuse nie. Wanneer jy bely jy is 'n gelowige,word jy gestuur om iets daaromtrent te doen. En dis God wat jou stuur. Jy kan dus nie juis Nee se nie...
Hy roep jou wel op tot geloof; "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag". (Joh 6:44).
En wanneer jy glo, stuur Hy jou... (Matteus 28:19-20).
Lees nou bietjie hier oor die woord apostel:
"En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels (mathetes = leerling; leerder; afgevaardig met wondermag) na Hom geroep en twaalf van hulle uitgekies, wat Hy apostels (apostelos = afgevaardigde; ambassadeur van die evangelie; boodskapper; een wat gestuur is) genoem het..." (Lukas 6:13).
Kortweg?
Jesus self het sy volgelinge (leerlinge) gestuurde afgevaardigdes genoem.
Hy het nie 'n amp op hulle bestel nie. Hy het vir hulle 'n funksie gegee om uit te voer. Wanneer jy gestuur word deur jou baas/Baas - hy/Hy vaardig jou af om namens hom/Hom op te tree), is dit gewoonlik om iets namens hom/Hom te gaan doen. Dis juis op grond van die amp van jou baas/Baas wat jy die opdrag uitvoer en waarom die ontvanger van die boodskap jou en die boodskap wat jy dra, aanvaar of verwerp. Dis waarom Jesus gese het as hulle julle verwerp, verwerp hulle My (Lukas 10:16).
Die apostels het goed verstaan hulle is gestuurdes - en nie ampsbekleers nie.
Lees maar in die briewe wat hulle skryf: In Romeine 1:1 beskryf Paulus homself as 'n dienskneg (doulos = slaaf) wat deur Christus geroep (kletos = uitgenooi = invited) is om eksklusief eenkant gesit te word, afgesonder en begrens te word vir die evangelie van God. Net so beskryf hy homself ook in die brief aan die Galasiers (1:1) - as 'n gestuurde (apostolos) deur God en nie deur mense nie. So noem hy homself ook in die eerste en tweede briewe aan die gemeentes in Korinte (1 en 2 Korinthiers 1:1). So ook in die briewe aan Efese, Kolosse en 1 en 2 Timoteus en so ook in 1 en 2 Petrus noem die skrywers hulleself gestuurdes (apostolos) wat eenkant afgesonder en gestuur is om hierdie goeie boodskap oor die wereld te verspei. Met hierdie insig het hulle ook uitvoering gegee aan Jesus se finale opdrag (Matteus 28:19-20; Markus 16:15).
Jesus stuur sy volgelinge om iets(e) te gaan doen. Jy is sy volgeling? Dan is jy (ook) gestuur, dws 'n apostolos. En wat jy moet doen is om die boodskap wat Hy aarde toe gebring het, oor die lengte en breedte van die aarde te gaan versprei.
Met denke, woorde en dade. Nes die predikers...
Jy het nie 'n amp daarvoor ontvang nie - jy het 'n opdrag ontvang wat jy moet uitvoer. Jou werk as Sy volgeling is om aan Hom gehoorsaam te wees. Gehoorsaamheid is die doel.
Die woord apostel is 'n funksiewoord, nie 'n naamwoord nie.