Dis merkwaardig veral wanneer mens dit lees net soos dit daar staan...
In 1 Korinthiers 14:26-37 lees ons hoe die byeenkomste van die eerste gemeentes gereel is:
elkeen bring 'n psalm of a lering
elkeen bring 'n openbaring of 'n uitleg
iemand praat 'n taal wat ander nie verstaan nie
iemand anders of hyself gee die vertaling daarvan (sonie swyg hy)
twee of drie profete kom aan die woord
die ander wat teenwoordig is beoordeel wat die profete sê
wanneer iemand 'n openbaring kry, moet die ander swyg en luister.
almal kan een vir een profeteer (sodat almal kan leer en bemoedig word)
Vers 37 sê duidelik dat bogenoemde bevele van die Here is.
Hier (of elders in die NT) is nie sprake van een persoon wat vir die ander wat by die byeenkoms van gelowiges teenwoordig is, preek nie. Elkeen het iets gebring.
Dis duidelik dat die byeenkoms soos dit hier in 1 Korinthiers uiteengesit is, so saamgestel is dat die gelowiges tydens hulle byeekoms by mekaar geleer het - Jesus het immers gese leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle geleer het (Matteus 28:19). Elkeen het iets vir iemand anders gebring.
Die aard van byeenkomste in kerke maak dit ook onmoontlik vir elkeen om 'n psalm of 'n lering of 'n openbaring of 'n uitleg te bring. Daar is net een wat besluit oor die liedere wat gesing word, en dis dieselfde persoon wat preek (en dis gewoonlik nie lering of openbarings nie).
Verseker kom daar in die kerkdienste van ons tyd ook nie twee of drie profete aan die woord nie. Daar is net een prediker wat preek. En almal wat daarna luister het sekerlik die geleentheid om dit te beoordeel - maar hulle beoordeling bly privaat en kan nie in die groep beoordeel (of dan getoets) word nie.
Die orde van die kerklike byeenkomste soos dit in ons tyd plaasvind, maak gladnie voorsiening daarvoor dat die prediker onderbreek kan word omdat iemand anders 'n openbaring ontvang nie...
In die byeenkomste word daar deesdae darem meestal slegs een taal gepraat wat almal verstaan. Meertaligheid in ons tyd is opgelos deur kerke te stig rondom taalvoorkeur. Daarom kom mertaligheid baie min voor en is vertaling tydens die byeenkoms selde nodig.
Hierdie uiteensetting van die byeenkomste van die ekklesia is voorafgegaan in 1 Korinthiers 12 met 'n lysie van die gawes wat aan die gemeentelede gegee is en waarvan mens dus manifestasie tydens (en seker ook voor en na) die byeenkomste kon verwag:
die woord van wysheid
die woord van kennis
geloof
gesondmaking
werkinge van kragte
profesie
allerhande tale
uitleg van tale
... en alles word toegedig aan uitdrukkings van die Heilige Gees.
Wat het hiervan geword?
Dit lyk vir my die ontsagwekkende impak van die eerste eeu se gemeentes wat soos hierbo beskryf gefunksioneer het, is omtrent stukkend. Paulus en sy span het in groot moeillikheid gekom nadat hulle in slegs twee jaar die hele ekonomie van Efese omgekeer het - en die stadsbewoners het hom daaroor gestenig en vir dood agtergelaat. En die bevraagtekenbare samekomste van die een-en-twintigste eeu se kerke wat heeltemaal anders funksioneer, het deesdae omtrent geen impak nie en begin vinnig leegloop... Daar is tans derduisende kerke in Suid-Afrika (en in net een groot stad sekerlik baie honderde kerke) - maar hulle het min of
meer geen impak nie op die ekonomie van enige stad nie, om nie eers te praat van enige impak op korrupsie en misdaad nie. En dit terwyl by die tagtig persent mense in Suid-Afrika hulleself as Christene beskou...
Dis geen wonder nie dat Jesus gese het (Lukas 18:8): "... as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?"